Sit jou hart en siel daarin
2017-07-20Prediker 9:10 NLV
Salomo skryf: ‘…eet jou brood met blydskap. Drink jou wyn met ‘n hart vol vreugde… Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (verse 7-10 NLV). Professor Howard Hendricks skryf: Ek het onlangs een van my beste vriende verloor, ‘n dame van ses-en-tagtig jaar jonk. Sy was die opwindendste leermeester wat ek nog ooit teëgekom het. Die laaste keer wat ek haar gesien het, was by een van daardie ‘Christelike’ partytjies waar ons almal op eierdoppe loop en probeer vroom lyk. Sy het ingestap, na my gekyk en gesê, ‘Hendricks, ek het jou lanklaas gesien. Vertel my, wat is die vyf beste boeke wat jy die afgelope jaar gelees het?’ Haar filosofie was, ‘Kom ons verveel mekaar nie. Kom ons bespreek iets. As ons niks het om te bespreek nie, kom ons begin dan ‘n argument.’ Sy was drie-en-tagtig jaar oud met haar laaste besoek aan die Heilige Land. Sy het saam met ‘n klomp NFL voetbalspelers gegaan. Een van my helderste herinnering is aan haar wat vooruit loop en terug vir hulle skree, ‘Kom aan manne, tel julle voete op!’ Sy is onlangs in haar slaap in haar dogter se huis oorlede. Haar dogter het my vertel dat sy kort voor haar dood haar doelwitte vir die volgende tien jaar neergeskryf het!’ Of jy nou negentien of nege-en-negentig is, die woord vir jou vandag is: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Met ander woorde: Sit jou hart en siel daarin.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Mat 26:57-75; Ps 14; Spr 19:1-4