Kies dankbaarheid
2017-07-19Psalm 103:2 NLV
Hy het so depressief gelyk waar hy op die park se bankie gesit het, dat ‘n polisieman hom probeer troos het. ‘Is iets verkeerd?’ ‘Ja,’ het die man geantwoord. “‘n Paar maande terug het my oupa vir my R500 000 en ‘n paar olieputte nagelaat.” ‘Dit klink nie na iets om oor ontsteld te wees nie,’ het die polisieman gesê. ‘Ja, maar jy ken nie die hele storie nie. Verlede maand het my oom my R1 000 000 nagelaat.’ Die polisieman het sy kop geskud. ‘Ek verstaan nie. Hoekom is jy so ongelukkig?’ Die man het geantwoord. ‘Sover het niemand nog hierdie maand vir my iets nagelaat nie!’ Daar is sekere mense wat ongelukkig is, maak nie saak wat hulle het nie. Die Psalmdigter wys ons hoe om ‘n ondankbare houding te oorkom deur ‘n gees van dankbaarheid aan te neem. ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’ Om te dink en om dankie te sê gaan hand aan hand. Herinneringe is ‘n katalisator vir danksegging. Die Psalmdigter moedig ons aan om drie dinge te doen: Eerstens, dink aan wat God ons gegee het – sy vergifnis, genesing, beskerming, verlossing, liefde en barmhartigheid (sien verse 1-5). Tweedens, dink aan wat God ons nie gegee het nie – die straf wat ons sonde verdien (sien verse 8-12). Derdens, dink aan wat God ons nog gaan gee. ‘Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien’ (vers 17 NLV). God aanvaar jou wanneer jy op Christus se optrede vertrou, nie op jou eie nie. Kyk dus elke oggend in die spieël en sê, ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Mat 26:47-56; Ps 146; Spr 18:23-24