Om jou lewe met iemand te deel
2017-07-301 Korintiërs 7:33 NLV
Toe die vierjarige Sannie haar eerste troue bywoon, het sy baie vrae gehad. By die onthaal het haar ma verduidelik dat daar twee koeke is – een vir die bruidegom en een vir die bruid. ‘Maar Mamma’, het sy verstom gevra, ‘het hulle dan nog nie geleer om te deel nie?’ Die Bybel sê, ‘Maar die getroude man is begaan… oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak… Die getroude vrou is… begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak’ (verse 33-34 NLV). As jy meer tyd aan jou loopbaan as aan jou verhouding spandeer, is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan hou nie. Wanneer jy met iemand trou, trou jy met alles wat hulle is en met alles wat hulle al deurgemaak het. As jy vir God vra, sal Hy vir jou die wysheid en genade gee om julle altwee toe te rus om in genade te groei. Dit mag dalk nie dadelik gebeur nie. Soos Shakespeare tereg gesê het, ‘What wound did ever heal but by degrees?’ Dit neem tyd vir selfs ‘n klein snytjie om gesond te word. As jy Hom egter toelaat, sal God vir jou die olie van barmhartigheid en die wyn van liefde gee om oor jou eggenoot se wonde te giet. Moet nooit so beskikbaar by die werk word dat jy onbereikbaar by die huis word nie. Jou eerste roeping is tot jou familie. Jou prioriteite moet daar begin en dan na jou loopbaan en ander belange uitbrei. Paulus sê in effek dat getroude mense van die vlak van toewyding wat van enkellopendes verwag word, vrygestel word, sodat hulle tyd het om aan hulle verhouding te werk (sien verse 32-35). Jy sê, ‘Maar ek moet tyd met God spandeer.’ Jy is geroepe om die Here lief te hê – en jou eggenote!
Sielskos: Gen 14:18-20; Ps 110; Heb 5:5-11