Denke gebaseer op skaamte (2)

2017-08-03
Jakobus 1:22 NLV

Skaamte groei in die donker, maar wanneer jy dit aan die lig van God se Woord blootstel, verloor dit sy houvas op jou. Gevoelens kan baie wispelturig wees. Hulle word dikwels deur alledaagse dinge soos ‘n bekende liedjie, die naam van iemand wat jou seergemaak het, ‘n herdenking, ‘n verjaarsdag, of ‘n dag soos Valentynsdag of Kersfees, veroorsaak. Dit is hoekom Jakobus sê, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ ‘n Berader skryf: ‘Skaamte kan ons terughou, ons afbring en ons na ons voete laat staar. Baie sisteme en mense word daardeur beheer en wil hê dat ons hulle speletjie moet speel – kompulsiewe gedrag, seksueel verslawende gedrag, ooreet, dwelmisbruik en verslawende dobbelary is alles gedrag wat op skaamte gebaseer is. Ons ervarings in die verlede en die manier wat ons dalk gebreinspoel is, laat ons skaam voel. ‘Moenie dink nie… moenie voel nie… moenie groei of verander nie… moenie lewendig voel nie… wees skaam!’ Hou op daarmee! Val jou skaamte aan! Maak oorlog daarteen. Leer om dit te herken en vermy dit soos die pes.’ Die Bybel sê, ‘…Daarmee het Hy afgereken met die sonde se mag oor ons’ (Romeine 8:33 NLV). Of jy nou die sonde gepleeg het en of iemand anders teenoor jou gesondig het, ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV). Let op: alle sonde! In plaas daarvan om te praat oor hoe jy voel, begin praat oor dit wat jy weet! God se Woord, wat God se opinie van jou is, is die genesendste krag op aarde. Lees dit dus, glo dit, spreek dit uit en staan daarop. As jy dit doen, sal jy bo jou denke van skaamte uitrys.

Sielskos: 1 Kron 1-2; Mark 1:35-45; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14