Beskerm jou huis
2017-08-01Genesis 2:15 NLV
Die Bybel sê dat God vir Adam in die tuin geplaas het om ‘dit te bewerk en te versorg.’ Dus moet jy selfs wanneer dit goed gaan in jou huislike omgewing, daaraan werk en dit versorg. Wanneer jy nie daarna omsien nie, sal selfs die beste tuin in die wêreld uiteindelik deur onkruid oorgroei word. Net so sal jou lewe tuis in die moeilikheid beland as jy al jou tyd en energie aan jou loopbaan bestee en niks vir jou huwelik en familie oorhou nie. Adam se werk was om sy huis te beskerm en te bewaar. ‘Teen wat?’ vra jy. ‘Het hy nie in die perfekte omgewing gewoon nie?’ Ja, maar die Satan was op die punt om op te daag en chaos te veroorsaak! Daar word gesê dat die duiwel in die detail is. As jy oplet, is die kans goed dat jy hom aan die werk in jou familie sal sien in areas waar daar stres en disfunksie is. Ons baklei en stry as paartjies, oortuig daarvan dat die ander persoon die probleem is. Dis wat die Duiwel wil hê ons moet dink! Hy weet dat jy nooit die ware probleem sal oplos as jy dink dat die persoon waarmee jy baklei, die probleem is nie. Jy het ‘n geestelike probleem wat deur jou selfsugtige natuur ontstaan het, wat Satan ‘n opening in jou huis gee. Die huwelik is deur God ingestel. As jy dus dinge uit God se oogpunt begin sien en volgens sy reëls begin optree, sal jy die produktiewe, doelgerigte en vredevolle verhouding hê wat Hy vir jou wil hê.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Mark 1:9-20; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6