Wetenskap bewys dat die Bybel waar is (4)

2017-08-09
Prediker 1:7 NLV

Die Bybel praat van die watersiklus. ‘Die riviere vloei in die see, maar vul nie die see nie. Die water gaan terug na die riviere toe, en keer terug na die see.’ Die Mississippirivier stort daagliks gemiddeld 1600 biljoen liters water in die Golf van Mexiko. Wanneer jy aan die Teems, die Nyl en die Amasone dink, gebeur dieselfde in riviere regoor die wêreld. Waar gaan al die water dus heen? Die antwoord lê in die hidrologiese siklus, waaraan die Bybel ons amper 3 millenia gelede bekend gestel het. Die wyse koning Salomo het geskryf, ‘As wolke vol water is, val daar reën op die aarde…’ (Prediker 11:3 NLV). Amos, die profeet, het gesê, ‘…Hy roep die waters uit die see en giet die reën oor die aarde…’ (Amos 9:6 NLV). Job se vriend, Elihu, het gesê, ‘Kyk, God is verhewe bo ons begrip… Hy trek waterdamp op en laat dit val as reën. Reën stort uit die wolke en almal baat daarby’ (Job 36:26-28 NLV). Die idee van ‘n volledige watersiklus is eers in die sewentiende eeu volkome deur die wetenskap verstaan. Tog het die Bybel tweeduisend jaar voor die ontdekkings van briljante manne soos Pierrie Perrault, Edme Marriot, Edmond Halley en ander, reeds die watersiklus verstaanbaar verduidelik. Die waarheid is, jou Bybel is geïnspireerd, onfeilbaar, betroubaar en meer op datum as môreoggend se koerant. Elke koerant het ‘n kolom waarin hulle regstellings druk van foute wat voorgekom het. Nie die Bybel nie! Jy kan dit vertrou om jou reg te lei in elke area van jou lewe.

Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Mark 3:20-35; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30