Vader (2)

2017-08-18
Spreuke 3:1 NLV

As jy ‘n vader is, verwag God van jou om die leier in jou familie te wees. Dit beteken: 1) Jy moet wíl lei. Sonder goeie leierskap, is die kans goed dat jou kinders op ‘n lewe van probleme afstuur. Die voormalige Amerikaanse Direkteur-generaal, William Barr, het gesê, ‘As jy na die een faktor kyk wat die naaste met misdaad korreleer, is dit nie armoede, werkloosheid, of opvoeding nie; dis die afwesigheid van ‘n vader in die familie.’ 2) Jy moet weet waarheen jy oppad is. Sonder duidelike rigting in jou eie lewe, kan jy nie jou kinders lei nie. God verwag van jou om jou kinders te leer om wyse besluite in belangrike areas van hulle lewens soos seks, geld, verhoudings, huwelik en die loopbaan wat hulle kies, te maak. Dit is maak-of-breek kwessies. Dit is jou werk om hulle in voorbeeld en praktyk te leer wat hierdie lewenskwessies is en om hulle te help om goddelike besluite in elkeen te maak. 3) Jy moet daar wees vir hulle. Jy moet hulle rigting gee, beskikbaar wees, hulle dissiplineer en hulle geestelik lei. Die belangrikste is egter om beskikbaar te wees. As jy nie beskikbaar is nie, kan jy hulle nie rigting gee nie, jou dissipline gaan nie baie effektief wees nie en jou geestelike leierskap sal verwerp word. As jy nie jou kinders lei nie, gaan iemand anders hulle vir jou lei. Wanneer dit gebeur, is die grootste probleem nie dat jy nie daar is nie; dis dat jy nie meer gemis word nie! In die Bybel word God ‘Ons Vader’ genoem. Vra Hom dus vandag om jou te help om die pa te word wat jou kinders nodig het.

Sielskos: 2 Kron 8-11; Mark 6:1-13; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27