Onthou om te vergeet

2017-09-18
Markus 11:25 NLV

Dit maak nie saak hoe lief twee persone mekaar het nie, daar sal altyd konflik wees waar julle genade aan mekaar moet bewys en mekaar moet vergewe. Het jy geweet dat paartjies wat gelukkig is en getroud bly dieselfde hoeveelheid rusies en konflik het as paartjies wat ongelukkig is en skei? Dis nie die afwesigheid van konflik wat ‘n huwelik in stand hou nie, maar die vermoë om die konflik te bestuur wanneer dit voorkom. Hoe bestuur mens dus konflik? Deur die tipe selfbeheersing te beoefen wat keer dat konflik uitbrei tot rusies wat seermaak en verdeel. Dit beteken ook dat jy weet hoe om gevoelens wat jou seermaak soos woede, teleurstelling en verwagtige waaraan nie voldoen is nie, te hanteer. Met ander woorde, dit beteken dat jy weet hoe om dit te vergewe en te vergeet. Emosionele seer en spanning is egter amper onmoontlik om te vergeet; hoe harder ons probeer, hoe meer onthou ons dit. Wat is dus die antwoord? Onthou om te vergeet! Probeer om soos God op te tree, wat kies om nie dit wat Hy van ons weet, teen ons te hou nie. Hy sê in sy Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). Dit beteken as jy iets teen jou eggenoot hou, daar net een oplossing is: Vergewe dit en vergeet daarvan. Jy mag dalk nooit vergeet hoe jy seergemaak is nie, maar jy kan kies om dit te vergewe en aan te beweeg. Nee, dis nie maklik nie, maar jy kan dit doen. Hoe? Deur die dinge te onthou, waarvan ander mense weet of nie weet nie, waarvoor God jou vergewe het en dieselfde genade dan aan jou eggenoot te bewys.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Mark 13:24-37; Ps 3; Spr 24:23-25