Word jy uitgedaag?
2017-09-171 Korintiërs 9:25 NLV
Wanneer jy geestelik uitgedaag word, groei jou geloof in God. Wanneer jy in jou denkwyses uitgedaag word, word jou ou idees uitgedaag en met nuwe idees vervang. Wanneer jy in jou verhoudings uitgedaag word, verdwyn jou selfsug en groei die liefde. Word jy tans uitgedaag? God laat ons toe om uitdagende omstandighede te ervaar om ons voor te berei vir die wedloop wat Hy ons geroep het om in die lewe te hardloop – en elke nou en dan tref jou siel ‘n muur. Geen hoeveelheid krag of druk kan die probleem beweeg nie. Dit is oefening vir die siel! Dikwels is hierdie oomblikke nie die ware toets nie, dit is net opwarming wat ons vir uitdagings in die toekoms voorberei. Hulle is verwysingspunte wat ontwerp is om ons te keer om paniekerig te raak wanneer ons in die ware wedloop is. Onthou, God laat nooit ‘n persoon toe om vir Hom te hardloop, of saam met Hom te hardloop, wat nie in hulle denke, geloof en vermoë om te lewe en lief te hê uitgedaag is nie. Wanneer jy dus ‘n probleem teëkom wat nie wil beweeg nie, onthou om diep asem te haal en jouself daaraan te herinner dat God jou uitdaag. Dis die uitdaging van die siel wat dit vir ons moontlik maak om situasies en tye te hanteer waar dit voel of ons dit nie gaan maak nie. Vroeër of later sal ons almal moeilike tye en verhoudings teëkom, maar dit is net strekoefeninge van die lewe. As dit dus voel dat jy tot breekpunt gestrek word, moenie tou opgooi nie. Sien dit vir wat dit is – voorbereiding vir die wedloop in die lewe wat God vir jou gekies het.
Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23