Vry van mense se goedkeuring
2017-09-191 Tessalonisense 2:4 NLV
Daar is ‘n wêreld se verskil om vir mense se goedkeuring op te tree, en om vry te wees om aan hulle behoeftes te voldoen omdat jy weet dat jy reeds God se goedkeuring het. Die strewe na goedkeuring is soos enige ander dwelm; jy kan nooit genoeg daarvan kry nie. Net soos alle verslaafdes, word jy mal wanneer dit weerhou word. Dit laat jou aan die genade van ander mense se opinies oor en speel met jou emosies. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie! Paulus was vry om die waarheid in liefde te spreek: om mense te konfronteer of sagkens met hulle te werk. Wanneer iemand vir Paulus gesê het dat hulle nie van hom hou nie, het hy nie slapelose nagte daaroor gehad nie, omdat sy sekuriteit en selfwaarde nie op hulle aanvaarding gebou was nie. ‘Nee, ons praat omdat God ons gekeur het…’ (vers 4 NLV). Paulus het hom nie met ander mense vergelyk of sy superioriteit oor ander mense probeer bewys deur altyd in beheer te probeer wees nie. Met die wete dat hy reeds God se goedkeuring gehad het, was hy vry van sulke vrese en kon hy die lewe geniet waarvoor God hom geroep het. Wanneer ons onvolwasse is, is ons bekommerd oor wat ander mense van ons dink. Soos ons meer volwasse word, besef ons dat hulle die meeste van die tyd nie eers aan ons dink nie. Hulle is te besig om aan hulleself te dink – of om hulle te bekommer oor wat ons van hulle dink! Wanneer jy weet dat jy God se goedkeuring het, het jy die krag om kritiek en konflik te hanteer, omdat jy verseker van jou identiteit is. Jou identiteit is die volgende: Jy is verlos, geroepe en deur God goedgekeur.
Sielskos: Sag 1-4; Mark 14:1-11; Ps 39; Spr 24:26-28