Leer om tevrede te wees
2017-09-26Filippense 4:11 NLV
Ontevredenheid is ‘n slagyster wat jou kan vasvang en jou van vreugde en vervulling kan beroof. Dit is hoekom die Bybel sê dat jy onder ‘alle omstandighede’ tevrede moet wees. Die idee dat ‘n groter kar of ‘n groter huis of ‘n groter salaris tevredenheid sal meebring, is ‘n mite. Daar is altyd iets groters en beters daar buite. Daar sal altyd mense wees wat meer as jy het, dus sal jy nooit van die trapmeul kan afklim nie. Dit beteken nie dat jy tevrede moet wees om in skuld of destruktiewe gewoontes vasgevang te wees nie, of om vir middelmatig te skik en nie God se roeping op jou lewe te vervul nie. Glad nie! Jy moet aanhou werk om jouself te verbeter, terwyl jy steeds ten volle afhanklik van God is om jou te seën, te bevorder en aan jou behoeftes te voldoen. Tevredenheid beteken dat jy nie iemand anders se posisie, besittings of persoonlikheid begeer nie. Jou sekuriteit en selfwaarde moet op wie jy in Christus is gebaseer wees, nie op jou materiële bates nie. Wat ‘n wonderlike manier om te lewe! Paulus het so gelewe. Hy het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 11-13 NLV). Jy moet elke dag ‘n keuse oor jou houding maak. Die woord vir jou vandag is dus: Leer om tevrede te wees.
Sielskos: 1 Kor 4-6; Mark 14:66-72; Ps 91; Spr 25:9-12