Wees passievol, proaktief en volhardend
2017-09-28Jakobus 1:22 NLV
Toe Nehemia die eerste keer die puinhoop van Jerusalem gesien het, het hy gehuil. Toe het hy sy moue opgerol en begin werk. In die aangesig van oorweldigende opposisie, het hy die mure in slegs twee-en-vyftig dae herbou. Hoe? Omdat dit sy visie en sy passie was! Vraag: Is jy bang om te sê, ‘Here, ek sal enigiets doen wat U wil hê ek moet doen,’ vir ingeval Hy jou êrens heen stuur waar jy nie wil gaan nie, of jou vra om iets te doen waarvoor jy nie gereed is of voor gekwalifiseer is nie? Dan het jy dit verkeerd! Die Bybel sê God se wil is ‘…goed en aanvaarbaar en volmaak…’ (Romeine 12:2 NLV). God se wil mag dalk ‘goed’ wees, maar dit beteken nie dis maklik nie. Hy sal jou egter die passie daarvoor gee. Toe Jeremia probeer het om op te hou om oor die Here te praat, het hy gesê dat God se woord soos ‘…’n vuur wat brand, vasgevang in my skelet…’ (Jeremia 20:9 NLV), geword het. ‘n Godgegewe visie laat jou hart aan die brand slaan. Jy mag dalk in die verlede misluk het, maar God kan jou hoofstukke van mislukking neem en ‘n storie van sukses skryf. Die Bybel sê, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ Jy sal ‘n passie vir God se wil ontwikkel wanneer jy dit begin doen! Wanneer dit gebeur, sal jy sê, ‘Hierdie is waarvoor ek gemaak is.’ Wanneer jy ‘n gebiedende rede het om iets te doen, en jy weet dat God jou dophou en glimlag, sal dit al die verskil in die wêreld maak. Die woord vir jou vandag is dus: Wees passievol, proaktief en volhardend.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Mark 15:12-20; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20