Dinge wat afgesny word, dinge wat gesnoei word
2017-10-01Johannes 15:2 NLV
Jesus sê: ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra’ (verse 1-2 NLV). Let twee dinge op: 1) God sny sekere dinge af. Dinge waarmee jy gemaklik is, maar in die pad van jou vordering staan. Dinge wat Hy nie vir jou gekies het nie. Dinge wat vir jou probleme gaan meebring. Dinge wat jy weier om te verander. Dinge wat klaar hulle doel gedien het. 2) God snoei sekere dinge. ‘n Vrugteboom wat onlangs gesnoei is, lyk verseker nie op sy beste nie. Wanneer God dinge in jou lewe begin snoei om jou in ander rigtings te stuur, mag jy dalk ook nie so goed lyk nie. Soms beteken dit dat jy dinge moet laat gaan wat jy gedink het altyd daar sal wees, of dat jy jou prioriteite moet herrangskik, of dat jy met minder vir ‘n rukkie moet klaarkom, of dat jy nie in staat is om aan jou geliefdes te verduidelik hoekom jy deur die snoeiproses gaan nie. Sap wat lewe gee wat in ‘n droë tak vloei is egter vermors! So ook tyd, aandag en energie wat vir eerste dinge bestem is maar aan tweede en derde dinge gegee word. Verstaan mooi: God weet wat in jou lewe afgesny moet word en wat in jou lewe gesnoei moet word. Al mag jy nie verstaan wat Hy doen nie, bid steeds: ‘Stuur wie U wil en neem weg wie U wil. Ek sal U loof as hulle kom en ek sal U loof wanneer hulle gaan, omdat u goedkeuring my beloning is en u doel die rede vir my lewe is.’
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Spr 5:15-19