Jubel oor jouself – God doen dit!

2017-10-05
Sefanja 3:17 NLV

Sommige van ons dink so min van onsself dat ons eerder in ‘n slegte verhouding sal bly as om alleen te wees. Om deur mense omring te wees beteken nie dat jy nie eensaam sal voel nie. Om saam met die verkeerde mense te wees, waarborg inderdaad dat jy op die ou einde leeg en gebruik sal voel. Totdat jy jou vrees vir alleenwees oorkom en vir God wag om jou die regte verhoudings te gee, sal jy aanhou om eensaam te voel. Miskien dink jy dat as jy nie betrokke raak nie, sal jy nie seerkry nie. Of jy is bang om oop te maak vir ingeval mense jou kritiseer omdat jy iets persoonliks gedeel het. Hierdie angstighede dra by tot jou gevoel van isolasie. Die motiveringspreker Zig Ziglar het gesê, ‘Wat jy in jou gedagtes sien, sal jou brein verwerk om uit te voer. Wanneer jy jou gedagtes verander, verander jy outomaties jou optrede.’ Dus: 1) Jy het ‘n ware beeld nodig van hoe God jou sien. Paulus sê, ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword… Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word’ (Efesiërs 1:11-12 NLV). Sefanja skryf, ‘…Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.’ 2) Jy het ‘n ware beeld van jouself nodig. Dawid het gesê, ‘U self… het my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Hierdie twee ware beelde keer jou om met ‘n minderwaardige selfbeeld te lewe en stel jou in staat om te vra vir dit wat jy in ‘n verhouding nodig het.

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21