Vriendskap (2)

2017-10-08
Spreuke 18:24 NLV

Indien jy ‘n goeie vriend wil hê, moet jy eers probeer om ‘n goeie vriend te wees. ‘n Onbekende digter het geskryf, ‘I went out to find a friend, but could not find one there; I went out to be a friend, and friends were everywhere.’ Vriendskap het nie ‘n dinamiese persoonlikheid nodig nie. Selfs skaam, stil en ingetoë individue kan leer om vriendelik te wees. Dis amper onmoontlik om geen vriende te hê wanneer jy self vriendelik is nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Sielkundiges het ‘n groep studente gevra om die voorletters van diegene wat hulle die minste van hou, neer te skryf. Sommige van die studente kon aan net een persoon dink, terwyl ander soveel as veertien mense gelys het. ‘n Interessante feit wat uit die navorsing gespruit het, is dat diegene wat van die grootste aantal mense nie gehou het nie, ook die mense was van wie die meeste ander nie gehou het nie. Hier is dus vyf maniere om vriende te maak: 1) Behou oogkontak. Wanneer jy met mense praat, kyk hulle in die oë. 2) Glimlag! Dit verg twee-en-sewentig spiere om te frons, maar net veertien om te glimlag – en ‘n glimlag verwarm harte en moedig gesprekke aan. 3) Noem mense op hulle name. Vreemdelinge is presies dit – vreemd – maar ‘n vriend is bekend. 4) Praat met mense oor hulle gunsteling onderwerp – hulleself. 5) Vind ‘n geleentheid om ‘n woord van bemoediging of ‘n kompliment te gee, of verrig ‘n goeie daad. Wanneer jy ‘n persoon met hierdie vyf kenmerke vind, het jy iemand gekry wat daarvoor bekend is dat hy of sy vriendelik is.

Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7