Hou op om jou daaroor te bekommer
2017-10-041 Petrus 5:7 NLV
John Mason skryf: ‘Ek kon nie vrede kry nie. Indien alles nie op sy plek was en ek alles verstaan het nie, het ek angstig, rusteloos, senuweeagtig, bekommerd en iesegrimmig geword, soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting. Die hewigheid daarvan was nie dieselfde nie, maar die simptome was. Ek as Christen was veronderstel om in geloof te wandel. Ek het Jesus vir my redding vertrou, maar in ander areas het ek op myself staat gemaak.’ Lewe jy op hierdie manier? Die inspirerende skrywer William Ward het geskryf: ‘Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaangename, versekering van rampspoed en oortuiging van mislukking. Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek. Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep. Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.’ Toe ‘n ou man gevra is wat die vreugde in sy lewe gesteel het, het hy geantwoord, ‘Dinge wat nooit gebeur het nie.’ Onthou jy die dinge waaroor jy ‘n jaar gelede bekommerd was? Het jy nie baie energie daarop gemors nie? Het die meeste daarvan nie goed uitgewerk nie? Amper 99 persent van die dinge waaroor ons ons bekommer, gebeur nie. Het jy geweet dat ‘n digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, uit minder as een glas water bestaan? Net een glas! Dit kan egter amper alle visie belemmer. ‘n Koppie vol bekommernis kan dieselfde doen. Die Bybel sê, ‘…Niemand het beheer oor wat met hulle gaan gebeur nie’ (Jeremia 10:23 NLV). Hou op om elke moontlike uitkoms te probeer beheer. Die lewe word beter wanneer jy besluit om op God se Woord te staan en Hom te vertrou om vir jou te sorg.
Sielskos: Eks 4-6; Mark 16:9-20; Ps 92; Spr 26:1-3