Leer om te lei (1)

2017-10-21
Eksodus 18:18 NLV

President Theodore Roosevelt het eenkeer gesê, ‘Die beste bestuurder is die een wat genoeg begrip het om bekwame mense te kies om te doen wat hy gedoen wil hê, en die selfbeheersing het om homself te weerhou om in te meng terwyl hulle dit doen.’ Tensy jy leer om te delegeer, sal jou leierskap agteruitgaan en jou visie sal stagneer. In Eksodus was Moses besig om homself fisies, emosioneel en geestelik uit te put terwyl hy aan die eise en probleme van twee miljoen Israeliete probeer aandag gee het. Dit is toe wat sy skoonpa vir hom sê, ‘…Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. Luister nou na my raad…’ (verse 18-19 NLV). Dit neem wysheid, volwassenheid en nederigheid om hulp te vra. Dis ‘n teken van krag, nie van swakheid nie. Die waarheid is, Moses was nie goed vir homself of die mense wat op hom staatgemaak het nie. As ‘n leier, is dit maklik om jou eie belangrikheid en bekwaamheid te oorskat. Dit is hoekom Paulus waarsku, ‘…Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles…’ (Romeine 12:3 ABA). God het mense met sekere gawes en talente rondom jou geplaas. Wanneer jy hierdie mense herken en betrek, word hulle vervul en word die werk reg gedoen. God het ons geskep om interafhanklik te wees, nie onafhanklik nie. Deur outoriteit aan die regte mense te delegeer, is Moses in sy leierskapstaak versterk, soos God dit wou hê. Wanneer jy probeer om alles vir alle mense te wees, voel jy op die ou einde gefrustreerd. Jy is nie geroep om dit alles te doen nie, maar om dit deur ander mense gedoen te kry. Dit is waaroor leierskap gaan.

Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:1-15; Ps 126; Spr 27:17-19