Het jou liefde afgekoel?

2017-10-19
Openbaring 2:4 ABA

Liefde is soos ‘n vuur; wanneer dit nie brandstof kry nie, brand dit uit. Dit is wat met die Christene in Efese gebeur het. Paulus het aan hulle geskryf: ‘Mag God se onverdiende goedheid met almal wees wat ons Here Jesus Christus met ‘n blywende liefde liefhet’ (Efesiërs 6:24 NLV). Hulle liefde vir die Here was so sterk en sigbaar, dat Paulus hulle daarvoor geprys het. Teen die tyd wat Christus egter met hulle in die boek van Openbaring praat, het hulle liefde vir Hom getaan: ‘Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense net nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie… Verder volhard jy ook en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (verse 2-5 NLV). Die evangeliese leier, John Stott, het geskryf: ‘Hulle het van die hoogtes van toewyding aan Christus geval. Hulle het na die vlaktes van middelmatigheid neergedaal. Die harte van die Efesiese Christene het afgekoel. Hulle eerste gevoel van ekstase het verbygegaan. Hulle was verlief op Hom, maar daardie verliefdheid het verdwyn.’ Jy kan kerk toe gaan, jou Bybel lees en elke dag bid, en tog nie so lief wees vir God soos wat jy moet wees nie. Om God lief te hê is ‘n verpligting en ‘n hartshouding wat in gehoorsaamheid manifesteer. Dis ‘n daaglikse besluit om Hom in alles wat jy doen en sê te eer. Het jou liefde afgekoel?

Sielskos: Eks 39-40; Joh 4:27-38; Ps 15; Spr 27:10-12