Moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie (1)
2017-10-29Johannes 15:11 NLV
Jesus het gesê, ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.’ As jy dink dat dinge in vandag se tye sleg gaan, oorweeg bietjie die wêreld waarin Jesus en sy dissipels moes lewe en preek. Die Romeinse Ryk het oor elke nasie regeer, insluitende Israel. Belasting het deur die dak geskiet. Vryheid van spraak en geloof was so beperk dat jy tronk toe kon gaan of doodgemaak word omdat jy ‘n Christen is. Immoraliteit en perversie is nie net verdra nie, maar aangemoedig. Uiteindelik sou Christus se dissipels as gevolg van hulle geloof ter dood veroordeel word. Tog het Hy aan hulle belowe dat hulle sy blydskap sou ervaar en dat hulle blydskap volkome sou wees. Moet dus nie dat die dinge wat in die wêreld aangaan, jou houding as verloste kind van God dikteer nie. Ja, daar is slegte nuus, maar daar is ook goeie nuus. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna: 1) Moslems bekeer hulle tot Christus teen ‘n vinniger koers as ooit tevore. In sy boek, A Wind in the House of Islam, skryf David Garrison dat iets ongekends in die Moslemwêreld aan die roer is. ‘Ons lewe in ‘n tyd met die meeste bekerings van Moslems na die Christendom in die wêreld se geskiedenis.’ Hy lewer bewyse van kragtige Christelike bewegings wat onder Moslems sedert die jaar 2000 begin het. 2) Die evangelie is besig om China te transformeer. ‘n Paar jaar gelede, het The Telegraph berig dat Christenskap so vinning in China groei, dat dit heel waarskynlik as ‘n Christelike nasie teen 2030 gesien sal word. Gegewe China se ekonomiese mag, het dit groot implikasies. Wees dus bly, en moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie.
Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36