Eens en vir altyd

2017-11-01
Hebreërs 9:26 NLV

Daar was baie verskillende meubelstukke in die tabernakel wat elkeen ‘n spesifieke doel gedien het. Daar was egter nie ‘n enkele sitplek nie, omdat die priester se werk nooit klaar was nie! Die mense het konstant gesondig, dus moes lammers aanhoudend geoffer word om vir hulle sondes boete te doen. Toe Jesus egter gesterf het, weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel, is sy eerste aksie, om sitplek in te neem (sien Hebreërs 10:12), omdat die verlossingswerk klaar gedoen was! Die Bybel sê: ‘Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoëpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie… O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem’ (Hebreërs 9:25-26 NLV). As gevolg van Christus se ‘eens en vir altyd’ opoffering aan die kruis, het jy enige tyd direkte toegang tot God. Daar is ‘n storie uit die Burgeroorlog in Amerika oor ‘n soldaat wat depressief op ‘n bankie buite die Withuis gesit het. ‘n Klein seuntjie wat daar verbygeloop het, het gestop en hom gevra wat verkeerd is. Die soldaat het geantwoord dat hy president Lincoln moes sien, maar dat die wagte hom nie wou toelaat nie. Die seuntjie het toe die soldaat aan die hand geneem en hom direk na die president se kantoor gelei. ‘Vader,’ het hy gesê, ‘hierdie man moet met jou praat.’ Die seuntjie was die president se seun; hy het direkte en konstante toegang tot sy pa gehad. Omdat jy aan Jesus behoort, het jy ook!

Sielskos: Heb 11:4-12:3; 1 Kro 17:1-20; Ps 18:20-29; Spr 4:18