Oorkom jou vrese (1)

2017-11-11
Job 11:18 NLV

Bekende mense regdeur die geskiedenis het as gevolg van hulle fobies, gely. Napoleon het ‘n irrasionele vrees vir katte gehad. Koningin Elizabeth I is deur ‘n abnormale vrees vir blomme geterroriseer (sy het spesifiek rose gevrees). Die biljoenêr Howard Hughes het ‘n patologiese vrees vir kieme gehad. Edgar Allen Poe, Harry Houdini en Adolf Hitler was kloustrofobies. Selfs die vader van psigo-analise, Sigmund Freud, het met ‘n vrees vir skares en publieke plekke (agorafobia) gesukkel. Die moeilikheid is dat baie van ons weier om te erken dat ons enige oorweldigende vrese het en ons sien dit selde as ‘n ernstige probleem. Die feit bly egter staan dat ons vrese ons reis na verandering hinder en tensy ons ons vrese oorkom, sal ons nooit ons Godgegewe potensiaal bereik nie. Miskien sien jy nie die ding wat jou pla as vrees nie. Dit kan ‘n gevoel of situasie wees wat jy gewoonlik vermy of aan ander oorlaat om te hanteer. Wat dit ook al mag wees, die enigste manier om dit te oorkom, om dit te sien vir wat dit is, dit te konfronteer, is om krag by God te kry en ‘n besluit te maak om te verander. Vandag bied God sy krag vir jou aan om dit te doen. Hier is ‘n belofte waarop jy kan staan: ‘Jy sal vol moed wees omdat jy hoop sal hê. Jy sal beskerm wees en rus in veiligheid.’ Hier is nog ‘n belofte vir jou: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV).

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 8:31-41; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22