Belydenis van ‘n geheime sondaar (4)

2017-11-20
Psalm 32:5 NLV

Julie Ann Barnhill skryf: ‘As jy moeg is daarvoor om voor te gee dat alles goedgaan, is dit tyd om op te tree. Vir te lank het veral Christenvroue geglo dat hulle die enigstes is wat met skandelike kwessies, pynlike verwyte en geraamtes in die kas sukkel. Wanneer ons teenoor God, onsself en ander oopmaak, ervaar ons verfrissende vryheid en vrede. ‘n Vrou het aan my geskryf: ‘Ek het ‘n aborsie ondergaan toe ek agtien was. Niemand weet daarvan nie. Vir jare lank het ek die datum in my kalender gemerk en oor die kind waarvan niemand geweet het nie en oor die vrou wat die skuld alleen moes dra, gerou. Nou weet ek dat ek nie alleen is nie en vir die eerste keer in my lewe glo ek werklik dat God groter as my geheim is – en dat Hy gewillig is om my te vergewe.’ Geheime het net mag wanneer hulle weggesteek is. Wanneer hulle in die lig van God se liefde openbaar word, verloor hulle hulle mag. Daar is egter sekere dinge wat jy moet oorweeg voordat jy teenoor iemand anders oopmaak: 1) As daardie persoon dinge wat ander vertroulik met hulle gedeel het herhaal, raai wie gaan volgende bespreek word? 2) Wees versigtig vir iemand wat geneig is om ongevraagde raad te gee en dan aanstoot te neem wanneer dit geïgnoreer word. 3) Bly weg van iemand wat jou probeer ‘regmaak’ en vir jou sê om jou nie oor jou geheime te bekommer nie. Kyk liewer uit vir iemand wat: a) verstandig is en weet wanneer om terug te tree en wanneer om vorentoe te beweeg wanneer jy ontsteld is; b) wat openlik oor hulle eie stryd praat; c) wat gou is om te luister en stadig is om te praat; d) wat hulle woord en raad met Skriftuurlik waarhede onderskryf.’

Sielskos: Pred 7-9; Joh 10:22-33; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20