Hoekom moet jy kerk toe gaan?

2017-11-15
Efesiërs 5:25 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n ma wat haar seun een Sondagoggend wakker maak en sê, ‘Staan op – jy is laat vir kerk!’ Hy antwoord, ‘Ek wil nie gaan nie. Ek het nie vriende daar nie, die musiek is aaklig en die preek is vervelig!’ Die ma antwoord, ‘Jy moet gaan – jy is die pastoor!’ Op ‘n ernstiger noot, hoekom moet jy kerk toe gaan? Omdat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het. Hy het dit gedoen sodat die kerk aan God kan behoort. Deur die water van die Woord was Hy die kerk skoon sodat Hy haar in alle skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vuilheid of slordigheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik’ (verse 25-27 NLV). Die pastoor en president emiritus van Taylor Universiteit, dr Jay Kessler, gee vir ons vyf redes om kerk toe te gaan: 1) Dis die enigste organisasie wat nog kwessies soos redding, dood, oordeel, genade, doelbestemmings, hemel en hel hanteer. 2) Dit voeg waarde en eer aan die menslike lewe toe. Ons lewe in ‘n sekulêre kultuur wat tot ons sin van innerlike waardeloosheid bydra. Die kerk werk hierdie negatiewe boodskap teë deur oor God se liefde en aanvaarding te preek. 3) Dit bied ‘n morele en geestelike kompas. Die kerk staan op die tydlose rots van God se Woord. 4) Dit is waar jy meelewing, genesing en gemeenskap ontvang. Daar werk God se Woord om ons as gelowiges saam te bind, en waarborg dat ons ‘…deur een Gees toegang tot die Vader het’ (Efesiërs 2:18 NLV). 5) Dit motiveer blywende, onselfsugtige, noodsaaklike en moedige pogings, soos sendingsreise, skole, hospitale, sopkombuise, verslawingsentrums en kinderhuise. Hoekom moet jy kerk toe gaan? Omdat Jesus die kerk liefhet – en jy moet ook.

Sielskos: Rom 12-14; Joh 9:13-23; Ps 8; Spr 30:5-6