Beoefen nederigheid

2017-11-24
1 Petrus 5:5 DB

Die Bybel sê: ‘…ken liewer julle plek… Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees. Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom… Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg’ (verse 5-7 DB). Kom ons kyk na hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Ken liewer julle plek.’ Beteken dit dat jy aan almal anders se wense moet voldoen? Nee; as jy dit doen sal almal dalk van jou hou, maar jy sal nie van jouself hou nie. Wees net wie God jou geroep het om te wees en wees gewillig om ander te dien soos die geleentheid hom voordoen. 2) ‘Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees’. Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; dit gaan daaroor om minder oor jouself te dink en ander mense eerste te plaas. 3) ‘Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom.’ Onderwerp jouself dus aan sy dissipline en ervaar sy redding. 4) ‘Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.’ Hier spreek Petrus een van ons kern menslike bekommernisse aan; dat as ons nie vir onsself sorg nie, niemand anders dit sal doen nie. As ons egter waarlik glo dat God vir ons omgee, sal ons nie bekommerd daaroor wees om na ons eie belange om te sien nie. Ons sal vry wees om op die behoeftes van ander mense te fokus, vol vertroue dat God geen moeite sal ontsien om aan ons behoeftes te voldoen nie.

Sielskos: Gen 7-9; Joh 11:28-37; Ps 114; Spr 31:1-5