Gebruik jou gesonde verstand

2017-11-22
Spreuke 3:13 NLV

Die sleutel tot sukses is om die regte ding op die regte tyd te doen. As jy moeg is daarvoor om met konstante stres te lewe, kyk na hierdie vier bronne van stres wat dr Howard Hendricks, ‘n professor in teologie, uitgewys het: 1) Ons sê vir te veel dinge ja. Dr Lewis Sperry Chafer het een maal gesê, ‘Baie van ons geestelike aktiwiteite is selde meer as ‘n goedkoop verdowingsmiddel om die pyn van ‘n leë lewe te verdoof.’ Al ons besige take spreek nie die leegheid in ons kern aan nie. 2) Ons stop nie om ons batterye te herlaai nie. Ons haal pligsgetrou ons dagbeplanners uit en vul die spasies met aktiwiteite. Laat ons egter nie onsself mislei nie; dis nie beplanning wanneer ons net seker maak dat aktwiteite nie oorvleuel nie. Gevolglik is ons ‘n gestresde, humeurige skare wat tussen aktiwiteite wat sleg beplan is en min tot ons geestelike gesondheid voeg, rondbeweeg. 3) Ons geniet nie dit wat ons bereik nie. ‘Begeertes wat vervul word, bring vreugde…’ (Spreuke 13:19 NLV). Omdat ons altyd te veel het om te doen en na die volgende verpligting moet jaag, maak ons dikwels nie die vorige een klaar of neem tyd om terug te staan en ons goeie werk te geniet nie. G’n wonder dat ons bestaan onbenullig voel nie. 4) Ons skuld meer as wat ons kan betaal. Volgende keer wat jy voor ‘n kredietaankope te staan kom – wag! Jy hoef nie noodwendig nee te sê nie. Stel net eers jou sogenaamde ‘behoefte’ aan God voor en sien wat Hy daaroor sê. As jy ernstig daaroor is om jou geestelike lewe te ontwikkel, moet jy jou gesonde verstand gebruik en hierdie vier beginsels aan die werk sit.

Sielskos: Gen 1-3; Joh 11:1-16; Ps 102:18-28; Spr 30:24-28