Wees ‘n vredemaker
2017-12-01Matteus 5:9 NLV
Die motiveringspreker Zig Ziglar vertel van ‘n klein outjie wat deur drie boelies gekonfronteer is, waarvan enigeen van hulle groot genoeg was om hom plat te slaan. Dit was ook duidelik wat hulle in gedagte gehad het. Die klein outjie was egter baie slim. Hy het teruggestaan, ‘n lyn in die stof getrek, nog ‘n paar treë teruggestaan, die grootste boelie reg in die oë gekyk en gesê, ‘Ek daag jou uit om oor hierdie lyn te tree!’ Die boelie het dit gedoen. Toe het die klein outjie geglimlag en gesê, ‘Wonderlik, nou is ons twee aan dieselfde kant!’ Wanneer jy jouself in die middel van konflik bevind, kan jy besluit om een van twee dinge te doen: om ‘n moeilikheidmaker of ‘n vredemaker te wees. Jy kan tot die stres bydra of ‘n oplossing probeer vind. Vredemakers se doel is om ‘n wen-wen situasie te vind. Barnabas, wie se naam ‘Seun van Vertroosting’ beteken, het vir die nuut-bekeerde Saulus van Tarsus in die bres getree. Die leiers van die kerk het deur hom bedreig gevoel, waarvoor jy hulle nie kwalik kan neem nie. Barnabas het egter nie aan Paulus se gewelddadige agtergrond gedink nie; hy het sy waarde vir God oorweeg. Hy het inderwaarheid gedink, ‘As ons hierdie man kan inspan en lei, kan hy die wedloop vir ons wen.’ Hy is reg bewys. Saulus die vervolger het Paulus die apostel geword, maar nie voordat Barnabas sy eie geloofwaardigheid op die spel geplaas het nie (sien Handelinge 9:26-30). Om vrede te maak beteken dat jy risiko’s moet neem. Dit beteken dat jy mense volgens hulle beste kwaliteite en oomblikke moet evalueer. Vredemakers kyk na die groter prentjie en word deur genade, nie deur beuselagtige opinies en tydelike omstandighede, gelei nie. Wees dus ‘n vredemaker.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 12:37-50; Ps 65; Spr 31:25-27