Geestelike groei (3)
2017-11-281 Tessalonisense 2:13 NLV
Geestelik gesproke mag jy dalk nog nie so ver gevorderd wees as wat jy graag sou wou wees nie, maar dank God egter dat jy steeds op die pad is. Eens op ‘n tyd was jy ‘n vreemdeling vir God se genade, maar nou is jy lid van God se huis (sien Efesiërs 2:19). Paulus skryf, ‘…julle [het] Sy Woord aangeneem… Dié Woord is aan die werk in julle wat glo.’ Solank as wat jy God se Woord lees en glo, sal dit aanhoudend in jou werk. Jy sal ook vinniger volwasse word as jy leer om te ontspan en begin lewe volgens dit wat God se Woord oor jou sê, nie volgens hoe jy voel nie. Hoe jy jouself sien, affekteer jou geestelike vordering geweldig. Totdat jou konsep van jouself in lyn is met dit wat God in die Skrif oor jou sê, sal jy aanhou om jouself as ongekwalifiseerd en onwaardig te sien – wat jou geestelike groei sal belemmer. Toe God vir Jeremia gesê het dat Hy hom as profeet vir die nasies geroep het, het Jeremia God ingelig dat hy te jonk was, dat hy nie ‘n goeie spreker was nie, dat hy nie genoeg ervaring gehad het nie, ensovoorts. Hoe het God gereageer? ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is… Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel…’ (Jeremia 1:5 NLV). Hou dus op om jou te bekommer dat jy verwerp sal word wanneer jy nie perfek optree nie. Geniet waar jy nou is en hou op om jou met ander mense te vergelyk. Moenie bekommerd wees as hulle al verder as jy gevorder het nie. Hulle het deur presies dieselfde plekke beweeg om te kom waar hulle vandag is.
Sielskos: Gen 17-19; Joh 12:1-11; Ps 118:19-29; Spr 31:14-17