‘Here, wat moet ek doen?’ (4)
2017-12-06Jesaja 42:16 NLV
Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur jou vrees te konfronteer en ‘n tree in geloof te neem. Voel jy onseker of bang oor God se wil in die situasie? Sy belofte vir jou is: ‘Ek lei blindes op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte voor hulle helder lig, en die ongelyke plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie!’ (vers 16 NLV). Let spesifiek op die woorde: ‘onbekende paaie’… ‘donkerte’… ‘ongelyke plekke’. Wanneer jy God se leiding deur die Skrif gesoek het, wanneer jy na die innerlike aansporing van die Heilige Gees geluister het en wanneer jy na betroubare mense vir wysheid uitgereik het, moet jy ‘n tree in geloof neem en doen wat jy glo God jou geroep het om te doen. Dis een ding om te vra, ‘Here, wat moet ek doen?’ Dis iets heeltemal anders om te vra, ‘Is ek gewillig om dit te doen wanneer U dit duidelik gemaak het?’ Probeer om hierdie twee vrae te antwoord. a) Hoekom is risiko vir jou so moeilik? Wees eerlik. Vir die meeste van ons is risiko en verandering ongemaklik, uitdagend en selfs bedreigend. Dit is hoekom die Bybel sê, ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). God sê egter nie, ‘Moenie jou eie insig gebruik nie’; Hy sê, ‘Moenie daarop staatmaak nie. Maak op My staat.’ b) Is jy bereid om ‘n groot verandering in jou lewe te maak – indien dit God se wil is? Jy moet hierdie twee vrae antwoord. Eers wanneer jy hulle korrek antwoord, is jy gereed om vorentoe te beweeg.
Sielskos: Gen 35-36; Joh 15:1-27; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12