2018-03-20
Handelinge 3:5 NLV
Jy kan nie iemand help tensy hulle gereed daarvoor is nie. Dit beteken dat jy moet kan onderskei tussen diegene wat oplossings soek en diegene wat net simpatie wil hê. Voor die verlamde man by die tempel sy genesing ontvang het, het hy ‘…toe na hulle [Petrus en Johannes] [gekyk] in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry.’ Daar is twee belangrike beginsels hieruit te leer: 1) Aandag. Jy moet eers die persoon se aandag kry. Hoor hulle regtig wat jy sê, of word hulle so deur hulle omstandighede en emosies verblind dat hulle nie ‘n uitweg kan sien nie, selfs al wys jy dit duidelik vir hulle uit? 2) Verwagting. Die effektiefste ding wat jy kan doen om iemand te help, is om hulle geloof te bou. Dit neem geduld. Een leier skryf eerlik oor sy probleem met ongeduld wanneer hy met mense moet werk: ‘Vroeg in my beroep wou ek dinge so vinnig as moontlik doen. As iemand nie teen my spoed beweeg het nie, het ek hulle in die stof agtergelaat. Hierdie leierskapstyl het egter my vermoë om met ander mense te skakel verhinder en my verhoudings het daaronder gelei. Die goeie nuus was dat ek vinnig beweeg het. Die slegte nuus was dat ek dikwels alleen beweeg het. Dit neem uit die aard van die saak energie om by iemand wat vinniger as ons beweeg, by te bly. Maar is dit nie ook uitputtend om teen ‘n stadiger pas as wat ons wil te beweeg nie? Ek vind dit baie frustrerend. Dit beproef my geduld. As ek egter by mense wil inskakel, moet ek gewillig wees om stadiger en teen iemand anders se pas te beweeg.’ Om mense te help, moet jy gewillig wees om dieselfde te doen.
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 25:24-46; Ps 11; Spr 8:4-5
2018-03-19
Handelinge 3:6 NLV
Let twee dinge in hierdie verhaal op. Eerstens: Dis belangrik om te weet wat jy het en wat jy nie het nie. ‘Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou…’ Jy moet gemaklik in jou eie vel en vol vertroue in jou roeping wees. Paulus skryf: ‘…Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie…As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit… As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap. Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om…’ (Romeine 12:6-9 DB). Tweedens: Leer om die verskil te herken tussen dit wat mense wil hê en dit wat hulle waarlik nodig het. Die verlamde man het nie ‘n aalmoes nodig gehad nie, hy het ‘n helpende hand wat hom optrek, nodig gehad. ‘Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (Handelinge 3:7 NLV). Om mense te help moet jy dus vir hulle lief wees, herken wat hulle nodig het, weet wat jy het om aan te bied en hulle in hul tye van nood tegemoet kom.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 25:1-23; Ps 115; Spr 8:1-3
2018-03-18
Handelinge 3:1 NLV
Die Bybel sê: ‘Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd. Net tóé word daar ‘n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit… om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net… ingaan, toe hy hulle sien en ‘n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe… stip aan, en sê: ‘Kyk na ons!’ Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry. Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (verse 1-7 NLV). Let twee dinge op: 1) Wonderwerke gebeur in allesdaage oomblikke. Hierdie man was heel waarskynlik aan Petrus en Johannes bekend, hulle het daagliks verby hom geloop. Hierdie dag was egter anders. Bonatuurlike geloof het in Petrus se hart opgekom en hy het die geleentheid aangegryp om God te verheerlik. 2) Jy moet voorbereid wees wanneer jou oomblik aanbreek. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Jy kan nie vertel wat jy nie weet nie. Jy kan nie deel wat jy nie voel nie. Niks word skielik geskep nie; dit neem tyd. Drie en ‘n half jaar van wandel met Christus, die aanhoor van sy boodskappe en die sien van sy wonderwerke, het die apostels vir hierdie oomblik voorberei. So ook die tien dae wat hulle pas in die kamer gevul met die Heilige Gees deurgebring het. Die woord vir jou vandag is dus: Om mense te kan help, moet jy voorbereid wees!
Sielskos: Gal 5:22; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17
2018-03-17
Galasiërs 2:21 NLV
Terwyl genade nie vir ons ‘n lisensie gee om te lewe net soos ons wil nie, veroorsaak ons ongekende skade wanneer ons ander veroordeel wanneer hulle nie volgens ons standaarde optree nie. Chuck Swindoll skryf: ‘Wettisisme versprei ‘n verlammende gif, verblind ons oë en wek trots in ons harte op. Liefde word deur ‘n verstandelike kontrolelys, waaraan ander mense verwag word om te voldoen, oorskadu. Voor jy tot die gevolgtrekking kom dat jy nie hieraan skuldig is nie, oorweeg bietjie jou reaksie die volgende keer wat jy ‘n gelowige ontmoet wat nie soos jy dink, optree of aantrek nie. Selfs wanneer jy dink dat jy gesofistikeerd genoeg is om jou ware gevoelens te vermom, kom dit tog in jou houding na vore.’ Jesus het gesê, ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV). ‘n Vooroordelende Christen tree op asof hulle lig helderder sal skyn as hulle iemand anders se lig doodblaas. Dit werk nie so nie. Paulus skryf, ‘…As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!’ Jy vra, ‘Maar wat as iemand die pad byster raak, of met opset sondig?’ Die Bybel sê, ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Wanneer jy dit op jouself neem om ander te veroordeel, weier jy hulle dieselfde genade wat jy dalk mag nodig kry voor die dag verby is.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 24:29-51; Ps 26; Spr 7:26-27
2018-03-16
Psalm 40:9 NLV
Billy Graham se vrou, Ruth, skryf: ‘Vanaand sit ek op die stoep, met ons ou Duitse herdershond wat by my voete lê. Donderweer rommel in die verte. Soos die storm nader kom, storm ons hond na die grasperk om dit tegemoet te gaan en dit verwoed die stryd aan te sê. Na die storm verby is, keer hy terug na die stoep, oortuig dat hy die storm weggedryf het. Hy is ‘n Duitse waghond en is opgelei om te soek en te red, aan te val en gehoorsaam te wees. Ek kan nie aan ‘n geleentheid dink wat ek hom moes beveel het om aan te val nie. ‘n Goed opgeleide hond kan egter vyandigheid aanvoel of ‘n wapen opmerk. In daardie geval sal die persoon wys wees om in sy spore te vries. Dis egter die gehoorsaamheidsopleiding wat die ware vreugde verskaf. Om hom te leer om te sit, te lê, weg te gaan, te soek, te bly, te stop. ‘n Ongehoorsame hond is nie net ‘n kopseer nie, hy kan ook ‘n hindernis wees. Gehoorsaamheid maak van ‘n hond ‘n vreugde. Is dit nie ook so met God en sy kinders nie? Daar is persone wat ek ken wat opgelei is om aan te val. Ons sal nou nie name noem nie – jy mag dalk ‘n paar ken. Daar is ook diegene wat in soek en redding opgelei is – soos sendingwerkers. Dan is daar diegene wat in gehoorsaamheid opgelei is. Ek dink meer as enigiets anders, verskaf hulle vreugde aan die Here, eenvoudige gehoorsaamheid; vreugdevolle, ywerige, onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Om saam met die Psalmdigter te sê, ‘Dis my begeerte om u wil te doen…’ sal die toppunt van opleiding vir die Christen wees, want dit is wat vir God die grootste vreugde gee.’
Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 24:3-28; Ps 24; Spr 7:24-25
2018-03-15
Filippense 4:6 DB
Die Bybel sê, ‘Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor… Jy sal dan verlig en tevrede voel…Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer’ (verse 6-7 DB). Wanneer jy bid, bekommer jy jou minder. In gebed gee jy die probleem vir God, dus ervaar jy vrede. Beteken dit dat jy jou glad nie meer oor die probleem sal bekommer nie? Nee, dit beteken net dat jy jou minder sal bekommer. As dit jou doelwit is om dit volkome aan God te gee en jou glad nie daaroor te bekommer nie, sal jy net stap vir stap daar kom. God verwag nie van jou om in ‘n staat van ontkenning te lewe nie. Van jou bekommernisse is ernstige sake. God verwag nie van jou om skielik nie meer daaroor om te gee nie. Hy bied egter ‘n alternatief tot die nuttelose en uitputtende gewoonte van kommer: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). Beteken dit dat jy met ‘n vinnige dertig sekonde gebedjie van al jou angs ontslae sal raak? Nee, dit beteken dat jy jou dag met gebed moet begin en aan en af deur die dag moet bid. Bid terwyl jy bestuur. Bid by die werk. Bid wanneer jy ‘n moeilike telefoonoproep kry. Bid wanneer jy deur iets teleurgestel word. Bid wanneer iets jou verras. Bid wanneer jy oorwinning behaal. Bid te midde van pynlike nuus. Moet letterlik nie ophou bid nie. Jou hemelse Vader, wat diep deur jou stryd aangeraak word, is lief daarvoor wanneer jy na Hom toe kom om raad te vra. Hy staan gereed om in te tree. Nooi Hom net uit om dit te doen.
Sielskos: 2 Kon 11-12; Matt 23:29-24:2; Ps 135; Spr 7:21-23