Bewys genade, want jy sal dit self nodig kry!

2018-03-17
Galasiërs 2:21 NLV

Terwyl genade nie vir ons ‘n lisensie gee om te lewe net soos ons wil nie, veroorsaak ons ongekende skade wanneer ons ander veroordeel wanneer hulle nie volgens ons standaarde optree nie. Chuck Swindoll skryf: ‘Wettisisme versprei ‘n verlammende gif, verblind ons oë en wek trots in ons harte op. Liefde word deur ‘n verstandelike kontrolelys, waaraan ander mense verwag word om te voldoen, oorskadu. Voor jy tot die gevolgtrekking kom dat jy nie hieraan skuldig is nie, oorweeg bietjie jou reaksie die volgende keer wat jy ‘n gelowige ontmoet wat nie soos jy dink, optree of aantrek nie. Selfs wanneer jy dink dat jy gesofistikeerd genoeg is om jou ware gevoelens te vermom, kom dit tog in jou houding na vore.’ Jesus het gesê, ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV). ‘n Vooroordelende Christen tree op asof hulle lig helderder sal skyn as hulle iemand anders se lig doodblaas. Dit werk nie so nie. Paulus skryf, ‘…As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!’ Jy vra, ‘Maar wat as iemand die pad byster raak, of met opset sondig?’ Die Bybel sê, ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Wanneer jy dit op jouself neem om ander te veroordeel, weier jy hulle dieselfde genade wat jy dalk mag nodig kry voor die dag verby is.

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 24:29-51; Ps 26; Spr 7:26-27