Hoe om mense te help (2)
2018-03-19Handelinge 3:6 NLV
Let twee dinge in hierdie verhaal op. Eerstens: Dis belangrik om te weet wat jy het en wat jy nie het nie. ‘Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou…’ Jy moet gemaklik in jou eie vel en vol vertroue in jou roeping wees. Paulus skryf: ‘…Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie…As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit… As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap. Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om…’ (Romeine 12:6-9 DB). Tweedens: Leer om die verskil te herken tussen dit wat mense wil hê en dit wat hulle waarlik nodig het. Die verlamde man het nie ‘n aalmoes nodig gehad nie, hy het ‘n helpende hand wat hom optrek, nodig gehad. ‘Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (Handelinge 3:7 NLV). Om mense te help moet jy dus vir hulle lief wees, herken wat hulle nodig het, weet wat jy het om aan te bied en hulle in hul tye van nood tegemoet kom.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 25:1-23; Ps 115; Spr 8:1-3