Die kuur vir kommer
2018-03-15Filippense 4:6 DB
Die Bybel sê, ‘Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor… Jy sal dan verlig en tevrede voel…Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer’ (verse 6-7 DB). Wanneer jy bid, bekommer jy jou minder. In gebed gee jy die probleem vir God, dus ervaar jy vrede. Beteken dit dat jy jou glad nie meer oor die probleem sal bekommer nie? Nee, dit beteken net dat jy jou minder sal bekommer. As dit jou doelwit is om dit volkome aan God te gee en jou glad nie daaroor te bekommer nie, sal jy net stap vir stap daar kom. God verwag nie van jou om in ‘n staat van ontkenning te lewe nie. Van jou bekommernisse is ernstige sake. God verwag nie van jou om skielik nie meer daaroor om te gee nie. Hy bied egter ‘n alternatief tot die nuttelose en uitputtende gewoonte van kommer: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). Beteken dit dat jy met ‘n vinnige dertig sekonde gebedjie van al jou angs ontslae sal raak? Nee, dit beteken dat jy jou dag met gebed moet begin en aan en af deur die dag moet bid. Bid terwyl jy bestuur. Bid by die werk. Bid wanneer jy ‘n moeilike telefoonoproep kry. Bid wanneer jy deur iets teleurgestel word. Bid wanneer iets jou verras. Bid wanneer jy oorwinning behaal. Bid te midde van pynlike nuus. Moet letterlik nie ophou bid nie. Jou hemelse Vader, wat diep deur jou stryd aangeraak word, is lief daarvoor wanneer jy na Hom toe kom om raad te vra. Hy staan gereed om in te tree. Nooi Hom net uit om dit te doen.
Sielskos: 2 Kon 11-12; Matt 23:29-24:2; Ps 135; Spr 7:21-23