Hoe om mense te help (1)

2018-03-18
Handelinge 3:1 NLV

Die Bybel sê: ‘Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd. Net tóé word daar ‘n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit… om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net… ingaan, toe hy hulle sien en ‘n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe… stip aan, en sê: ‘Kyk na ons!’ Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry. Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (verse 1-7 NLV). Let twee dinge op: 1) Wonderwerke gebeur in allesdaage oomblikke. Hierdie man was heel waarskynlik aan Petrus en Johannes bekend, hulle het daagliks verby hom geloop. Hierdie dag was egter anders. Bonatuurlike geloof het in Petrus se hart opgekom en hy het die geleentheid aangegryp om God te verheerlik. 2) Jy moet voorbereid wees wanneer jou oomblik aanbreek. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Jy kan nie vertel wat jy nie weet nie. Jy kan nie deel wat jy nie voel nie. Niks word skielik geskep nie; dit neem tyd. Drie en ‘n half jaar van wandel met Christus, die aanhoor van sy boodskappe en die sien van sy wonderwerke, het die apostels vir hierdie oomblik voorberei. So ook die tien dae wat hulle pas in die kamer gevul met die Heilige Gees deurgebring het. Die woord vir jou vandag is dus: Om mense te kan help, moet jy voorbereid wees!

Sielskos: Gal 5:22; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17