Gehoorsaamheidsopleiding
2018-03-16Psalm 40:9 NLV
Billy Graham se vrou, Ruth, skryf: ‘Vanaand sit ek op die stoep, met ons ou Duitse herdershond wat by my voete lê. Donderweer rommel in die verte. Soos die storm nader kom, storm ons hond na die grasperk om dit tegemoet te gaan en dit verwoed die stryd aan te sê. Na die storm verby is, keer hy terug na die stoep, oortuig dat hy die storm weggedryf het. Hy is ‘n Duitse waghond en is opgelei om te soek en te red, aan te val en gehoorsaam te wees. Ek kan nie aan ‘n geleentheid dink wat ek hom moes beveel het om aan te val nie. ‘n Goed opgeleide hond kan egter vyandigheid aanvoel of ‘n wapen opmerk. In daardie geval sal die persoon wys wees om in sy spore te vries. Dis egter die gehoorsaamheidsopleiding wat die ware vreugde verskaf. Om hom te leer om te sit, te lê, weg te gaan, te soek, te bly, te stop. ‘n Ongehoorsame hond is nie net ‘n kopseer nie, hy kan ook ‘n hindernis wees. Gehoorsaamheid maak van ‘n hond ‘n vreugde. Is dit nie ook so met God en sy kinders nie? Daar is persone wat ek ken wat opgelei is om aan te val. Ons sal nou nie name noem nie – jy mag dalk ‘n paar ken. Daar is ook diegene wat in soek en redding opgelei is – soos sendingwerkers. Dan is daar diegene wat in gehoorsaamheid opgelei is. Ek dink meer as enigiets anders, verskaf hulle vreugde aan die Here, eenvoudige gehoorsaamheid; vreugdevolle, ywerige, onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Om saam met die Psalmdigter te sê, ‘Dis my begeerte om u wil te doen…’ sal die toppunt van opleiding vir die Christen wees, want dit is wat vir God die grootste vreugde gee.’
Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 24:3-28; Ps 24; Spr 7:24-25