Breek jou albaste fles (3)

2018-03-14
Markus 14:6 NLV

Toe die vrou haar albaste fles gebreek het, was die reaksie van die dissipels treffend. ‘…Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?..’ (vers 4 NLV). Hulle het gedink sy verspil haar parfuum toe sy dit oor Jesus se voete gegiet het. Hulle het dit ‘n vermorsing genoem, maar Hy het dit “‘n weldaad” genoem. Toe het Hy voortgegaan om te sê, ‘Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!’ (vers 9 NLV). Kan jy jou indink wat so ‘n stelling vir haar selfvertroue gedoen het? Sy het heel waarskynlik jare laas ‘n vriendelike woord of ‘n kompliment gekry. Niemand kan potensiaal soos Jesus raaksien nie, omdat Hy die Een is wat dit in die eerste plek vir ons gee. Dis ook hoekom God nooit op jou sal opgee nie. Dis nie in sy aard nie (sien Filippense 1:6). Sy ‘…goedheid en trou vergesel [jou] al die dae van [jou] lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hierdie vrou was desperaat genoeg om ongenooid by die partytjie op te daag. Jesus reageer op desperate mense. Hoe desperaat is jy? Desperaat genoeg om ‘n verandering te maak, om ‘n opoffering te maak? Desperaat genoeg om deurnag te bid? Die hele Bybel te lees? Die konflik op te los? Met ‘n vriend, wat ‘n verlore saak is, te pleit? Om jou spaargeld vir die uitbreiding van die koninkryk te skenk? Die pad van die minste weerstand sal jou nie bring waar jy moet wees nie. As jy egter vir God uit jou pad gaan, sal God vir jou uit sy pad gaan.

Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20

Breek jou albaste fles (2)

2018-03-13
Markus 14:5 DB

Dis moontlik dat die albaste fles elke sent van die vrou se spaargeld verteenwoordig het. Die waarde daarvan word bewys deur die feit dat twee van die skrywers van die evangelie dit opmerklik gevind het en vir ons ‘n geskrewe skatting gegee het: 300 silwer geldstukke – die ekwivalent van ‘n jaar se salaris. Vir die meeste van ons, verteenwoordig die albaste fles vol olie, geld. Dis ons neseier. Dis ons pensioenfonds. Die vraag is: Is jy gewillig om dit alles weg te gee? Ons stel nou nie voor dat jy nie jou rekeninge moet betaal of vir jou toekoms moet beplan of vir jou familie moet sorg nie. As God jou egter aanspoor om dit alles weg te gee, sal jy gewillig wees om jou albaste fles te breek en dit by Jesus se voete uit te giet? Gedurende sy leeftyd het John Wesley ongeveer dertig duisend pond weggegee. As mens dit volgens inflasie aanpas, is dit meer as R23 miljoen in vandag se tyd. Wesley het ‘n verbond met God in 1731 aangegaan om sy jaarlikse inkomste tot agt-en-twintig pond te beperk. Die eerste jaar het hy egter net dertig pond gemaak, dus het hy net twee pond gegee. Die volgende jaar het sy inkomste verdubbel, en kon hy twee-en-dertig pond weggee. Hy het nooit meer as eenhonderd pond in sy besit gehad nie, omdat hy bang was om ‘n aardse skat bymekaar te maak. Hy het geglo dat God se seën beteken dat ons ons standaard van gee moet verhoog, nie ons lewensstandaard nie. Selfs toe sy inkomste duisende ponde oorskry het, het hy eenvoudig gelewe en al sy surplus geld weggegee. Hy het met ‘n paar munte in sy sak gesterf, maar het ‘n stoor vol skatte in die hemel gehad. Dink daaroor!

Sielskos: 2 Kon 7-8; Matt 23:1-14; Ps 27; Spr 7:10-13

Breek jou albaste fles (1)

2018-03-12
Lukas 7:37 NLV

Die Bybel sê, “‘n Sekere vrou van losse sedes… het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval… Toe het sy… aromatiese olie daaraan gesmeer” (verse 37-38 NLV). Hierdie olie was suiwer nardusolie, ‘n meerjarige krui wat in die Himalajas geoes word. ‘n Halwe liter daarvan! Die fles, wat van deurskynende edelstene gemaak was, was heel waarskynlik ‘n familie erfstuk. Dit mag dalk selfs haar bruidskat gewees het. Dit was eenvoudig haar kosbaarste besitting. Hoe ironies, maar tog toepaslik, dat die parfuum wat sy in haar beroep as prostituut gebruik het, die kenteken van haar belydenis van geloof sou word toe sy elke laaste druppel oor die voete van Jesus gegiet het. Die breek van daardie fles was haar breek met haar verlede. Sy sou nie meer die stank van sonde met die soet geur van parfuum probeer verdoesel nie. Geen geheime meer nie. Geen skande meer nie. Sy het uit die donker skaduwee van sonde in die lig van die wêreld uitgestap. Daar kom ‘n oomblik wat jy al jou kaarte op die tafel voor God moet sit. ‘n Oomblik waar jy al jou geheime, struikelblokke en sondes moet openbaar. ‘n Oomblik waar jy met jou volle gewig op die genade van God moet val. Hoekom tree ons op asof ons sonde ons diskwalifiseer om die genade van God te ontvang? Dit is die enigste rede wat ons daarvoor kwalifiseer! Enigiets anders is ‘n eiegeregtige poging om God se genade te probeer verdien. Jy kan nie God se genade net 99% vertrou nie. Dis alles of niks. Wanneer ons onsself probeer red, verbeur ons die redding wat alleenlik deur Jesus Christus kom, met genade deur geloof (sien Efesiërs 2:8-9)

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9

Praat altyd die waarheid

2018-03-11
Psalm 51:8 NLV

Die Bybel sê, ‘Hy [Jesus]… het nooit enigiemand bedrieg nie…’ (Jesaja 53:9 NLV). As ons God se wil doen, sal ons ook nooit enigiemand bedrieg nie. God wil nie ons bedrog net minimaliseer nie, Hy wil dit heeltemal elimineer. Hy draai nie doekies om as dit by oneerlikheid kom nie. ‘Bedrieërs sal nie in my huis woon nie…’ (Psalm 1.1:7 NLV). Paulus noem die tipes mense op wat nie die koninkryk van God sal erf nie – mense wat onsedelike lewens lei, afgodsdienaars, egbrekers, mense wat dronk word, ander mense besteel en mense wat oor ander lieg (sien 1 Korintiërs 6:9-10). Bedoel dit dat jou leuens en vleiery dieselfde hemelse woede as ontrouheid en aanranding ontlok? Dit kom so voor. God sien mense wat oor hul belastingopgawes jok in dieselfde lig as mense wat afgode dien. ‘Die Here verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan’ (Spreuke 12:22 NLV). Hoekom is God so erg oor oneerlikheid? Omdat oneerlikheid absoluut die teenoorgestelde van God se karakter is (Hebreërs 6:18). Dis nie dat God nie wil jok nie, of kies om nie te jok nie, dis dat Hy nie kán jok nie. ‘n Hond kan nie vlieg nie, ‘n voël kan nie blaf nie en God kan nie jok nie. Wanneer Hy ‘n belofte maak, hou Hy dit. Wanneer Hy ‘n stelling maak, bedoel Hy dit. Wanneer Hy die waarheid proklameer, kan ons dit glo. ‘Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan nie aan Homself ontrou word nie’ (2 Timoteus 2:13 NLV). Dis nie ‘n grys area by God nie, dis swart en wit. As jy dus ernstig daaroor is om ‘n pad met Hom te stap en Hom te bevredig, moet jy altyd die waarheid praat.

Sielskos: Eks 20:17; 2 Kon 5:1-27; Pred 5:10; Luk 12:13-34

Maak gebed ‘n prioriteit

2018-03-10
Handelinge 6:4 NLV

In Disciplines of a Godly man, sê die pastoor en skrywer R. Kent Hughes: ‘Jay Sidlow Baxter het een maal ‘n bladsy uit sy eie persoonlike dagboek met ‘n groep pastore gedeel wat hom oor die dissipline van gebed uitgevra het. Hy het begin vertel hoe hy die bediening betree het, vasbeslote om ‘n ware man van gebed te wees. Dit was egter nie lank voor sy toenemende verantwoordelikhede, administratiewe pligte en die subtiele voorwendsels van die pastorale lewe begin het om gebed eenkant toe te druk nie. Verder het hy begin gewoond raak daaraan en het verskonings vir homself gemaak. Een oggend het alles egter tot ‘n punt gekom toe hy voor sy lessenaar wat met werk bestrooi was gestaan het en op sy horlosie gekyk het. Die stem van die Gees het hom geroep om te bid. Terselftertyd het ‘n fluweelsagte stem hom aangesê om prakties te wees en sy korrespondensie te beantwoord, en dat hy moet besef dat hy nie die ‘geestelike tipe’ is nie. ‘Daardie laaste opmerking,’ sê Baxter, ‘was soos ‘n dolk in die hart. Ek kon my nie indink dat dit kan waar wees nie.’ Hy was met afgryse vervul oor sy vermoë om die grondslag van sy pastorale krag weg te rasionaliseer.’ Verstaan mooi: Minute wat jy in gebed belê, sal vir jou meer beteken as ure wat jy aan eindelose aktiwiteite spandeer. Die apostels in die Nuwe Testament het dit verstaan. Soos die kerk groter geword het en hulle besiger geword het, het hulle ‘n lewensveranderende besluit gemaak: ‘óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ As gevolg daarvan het die kerk gegroei en vermenigvuldig. Maak dus gebed ‘n prioriteit!

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 22:15-33; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Gee jou beste vir God

2018-03-09
2 Samuel 24:24 NLV

In plaas van om God vir oorwinning oor sy vyande te vertrou, het Dawid uit sy eie uit besluit om die aantal soldate in sy weermag te tel om te sien hoe sterk hulle is. God het dit as ‘n ‘klap in die gesig’ gesien en ‘n plaag het Israel getref wat sewentig duisend mense uitgewis het. Om die plaag te stop, moes Dawid die volgende doen: ‘…Gaan bou ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet’ (vers 18 NLV). Toe Arauna agterkom wat aan die gang is, het hy sy dorsvloer en osse vir Dawid verniet aangebied. Dawid het egter gesê: ‘Nee, Arauna, ek dring aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie…’ Dus het Dawid hom 50 sikkels silwer vir die osse en die dorsvloer betaal. Dawid het ‘n altaar vir die Here daar gebou en die brandoffers en maaltydoffers daar gebring. Die Here het sy gebed beantwoord, ‘…Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou’ (vers 25 NLV). Wanneer dit kom by die dien van die Here, as dit jou niks kos nie, tel dit nie! God weet dat ons nie almal dieselfde aantal of bedrag kan gee nie. Hy vra egter nie iets van jou wat gelyk is aan aantal of bedrag nie, maar wat gelyk is aan opoffering! Die Bybel sê, ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes’ (Spreuke 3:9 NLV). Of dit nou by lofprysing, bediening of gawes kom, maak seker dat jy jou beste vir God gee.

Sielskos: Op 19-22; Matt 22:1-14; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2