2018-03-08
1 Korintiërs 6:20 NLV
Tensy jy jou liggaam versorg, mag jy dalk gouer hemel toe gaan as wat jy beplan. Die Bybel sê dat ons God met ons liggame moet verheerlik. Hoe doen ons dit? 1) Verander jou dieet. Baie van ons eet vir die verkeerde redes – soos stres, verveeldheid, moegheid, woede, depressie en lae selfbeeld. Probeer om by die wortel van jou probleem uit te kom. Onvoldoende groente, vrugte en vesel en te veel kitskos kan jou gesondheid verwoes. Oefen selfbeheersing uit. ‘Christene is mense wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig het’ (Galasiërs 5:24 NLV). 2) Begin oefen. Die geheim is om stadig te begin. Neem die trappe in plaas van die hysbak, parkeer jou kar en stap, speel met jou kinders bal. God het jou liggaam ontwerp om te beweeg en dit beteken nie om elke oggend van jou kar na jou lessenaar toe te wandel nie. Om drie keer ‘n week vir dertig minute te oefen sal jou bloeddruk en stres verminder. 3) Gaan vroeër bed toe. Pastoor Tony Jenkins het sy dokter oor sy vrou se snorkery geraadpleeg. ‘Pla dit jou regtig so baie?’ het die dokter gevra. ‘Dit pla nie net my nie,’ het Jenkins geantwoord. ‘Dit pla die hele gemeente!’ Op ‘n ernstiger noot, jy het agt ure slaap nodig. Jy kan heel waarskynlik op minder slaap funksioneer, maar wil jy regtig moeg deur die lewe gaan? Die Psalmdigter het gesê, ‘Tevergeefs werk jy so hard van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV). Skakel dus die televisie en die rekenaar af en gaan klim op ‘n redelike tyd in die bed. Sorg beter vir jou liggaam!
Sielskos: Op 15-18; Matt 21:33-46; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35
2018-03-07
Spreuke 18:8 NLV
Die houtluis lewe aan die onderkant van ‘n keëlvormige gat wat hy in die grond grawe. Wanneer die mier verbykom en aan die kant van hierdie keël wat die houtluis versigtig gemaak het, loop, voel die houtluis die korreltjies sand afgly wat vir hom die teken is dat daar ‘kos’ daar bo is. Op daardie punt begin hy grond op sy slagoffer gooi. Hy probeer inderwaarheid die mier na sy vlak toe aftrek. Dis wat ons doen wanneer ons skinder. Ons gooi grond op ander mense, in die hoop dat ons hulle na ons vlak toe kan aftrek. Dis hoekom Salomo gewaarsku het: ‘Skinderstories is so soet soos lekkers. Jy sluk dit maklik, en dit sink tot diep in jou gemoed.’ Die oor smag na skinderstories soos ‘n honger maag na kos smag. Salomo gee verder hierdie waarskuwing: ‘Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit. Bly weg van iemand wat alte maklik praat’ (Spreuke 20:19 NLV). As jy dus lippe wat skinder of gierige ore het, sê God vir jou, ‘Moet dit nie doen nie!’ Hier is iets wat jy dalk nog nie oorweeg het nie: Terwyl jy nooit geken en geoordeel kan word aan wat ander mense van jou sê nie, kan jy geken en geoordeel word aan wat jy van hulle sê. In die meeste gevalle is dit onwettig om te steel of gesteelde goedere te ontvang. Dis hoekom die apostel Paulus ons vermaan, “‘n Beskuldiging teen ‘n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word” (1 Timoteus 5:19 AFR83). Nog ‘n laaste gedagte: ‘n Skinderbek moet altyd ‘n medepligtige hê om die misdaad te pleeg. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie skinderstories aanneem of herhaal nie.
Sielskos: Op 10-14; Matt 21:18-32; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31
2018-03-06
Galasiërs 5:16 NLV
Maak op Christus se krag staat om jou te help. ‘… Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.’ Let op dat dit nie sê dat jy glad nie daardie begeertes sal hê nie. Geesgevulde mense ervaar steeds die begeertes van die menslike vlees, dis net dat hulle nie daaraan toegee nie. Ons het dit gewoonlik andersom. Ons sê, ‘Ek is nie goed genoeg om God se Gees in my lewe te hê nie. Sodra ek my lewe in orde kry, dan gaan ek toelaat dat die Heilige Gees my lewe beheer.’ God sê nie, ‘Kry jouself onder beheer en dan sal Ek jou help’ nie. Hy sê, ‘Laat my Heilige Gees jou beheer terwyl jy steeds met die probleem sukkel. Ek sal jou help verander.’ Dit maak ‘n groot verskil. Jy sal nie sê, ‘Ek gaan eers beter word en dan gaan ek die dokter sien nie.’ Dis absurd! Jy het Christus nou in jou lewe nodig! Hy het die mag om jou te help verander. Jy sê, ‘Maar ek geniet wat ek doen.’ Dit is omdat daar ‘…kortstondige genieting van die sonde’ (Hebreërs 11:25 NLV), is. Niemand van ons sal sondig as dit ons onmiddellik ongelukkig maak nie. Moenie van God verwag om die versoeking van sonde tot niet te maak nie; vra Hom vir die krag om die versoeking te oorkom. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Jy sal die begeerte en krag ontvang om dit te doen wat reg is.
Sielskos: Op 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Spr 6:29
2018-03-05
Efesiërs 4:26-27 NLV
Vermy die dinge wat jou in die versoeking bring. Bly weg van situasies af wat jou selfbeheersing laat verswak. As jy nie gesteek wil word nie, bly weg van bye af. Beplan vooruit om situasies te vermy wat jy weet gaan veroorsaak dat versoeking jou lewe binnekom. Moenie lekkergoed in die spens hou as jy probeer dieet nie. Moenie kredietkaarte kry as jy impulsief dinge koop nie. Raak ontslae van jou toegang tot pornografie as jy daarmee sukkel. As jy ‘n tiener is, is die tyd om aan selfbeheersing te begin dink nie wanneer jy op die agtersitplek van ‘n kar saam met iemand is nie. Vraag: Wat moet jy vermy? Of van ontslae raak? Tydskrifte? Boeke? DVD’s? ‘n Verhouding? Die Bybel sê, ‘…slegte geselskap bederf goeie gewoontes’ (1 Korintiërs 15:33 NLV). Vermy mense en situasies wat jou versoek. Dit mag dalk nodig wees dat jy van werk verander omdat daar ‘n verhouding is wat verkeerd en nadelig is vir jou. Dis ‘n drastiese stap, maar dis dalk nodig dat jy iets drasties doen om dit wat jou op hierdie spesifieke tyd versoek, te vermy. As jy deur jare van herhalende mislukking geleef het, is dit tyd om eerlik en nederig te wees. Dis tyd om te bid: ‘Here, ek is nie sterk genoeg om hierdie versoeking alleen te weerstaan nie. Help my!’ Hy sal jou help. ‘Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV).
Sielskos: Op 1-4; Matt 20:17-34; Ps 70; Spr 6:26-28
2018-03-04
Galasiërs 6:2 NLV
Maak jouself toerekenbaar teenoor iemand. Alkoholiste Anoniem het ‘n ‘maat sisteem’ waarvolgens jy aangemoedig word om iemand te skakel wanneer jy die druk begin voel om in ‘n ou, destruktiewe patroon terug te val. Dis ‘n Skriftuurlike beginsel: ‘Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle’ (vers 2 DB). Kry iemand wat by jou sal hoor hoe dit gaan en jou in areas wat jy meer selfbeheersing wil hê, sal bemoedig. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied…’ (Prediker 4:12 NLV). Elke kerk het sulke verhoudings nodig waar mense aan mekaar toerekenbaar gehou word; verhoudings waarin mense mekaar in die Here aanmoedig. Om aan iemand toerekenbaar te wees is moeilik, maar dit werk. Waarvoor moet jy in ‘n maat vir so ‘n verhouding uitkyk? Eerstens, moet hulle dieselfde geslag as jy wees. Jy het nie nodig om nog ‘n versoeking in jou pad te sit deur persoonlike probleme met iemand van die teenoorgestelde geslag te deel nie. Tweedens moet jy vir iemand uitkyk op wie jy kan staatmaak om deur te druk met hulle verpligtinge – iemand wat getrou is. Derdens, kyk uit vir iemand wat jou probleem konfidensieel sal hou. Moenie iemand kies wat bekend daarvoor is dat hulle te veel praat nie. Vierdens, sê vir jou maat dat jy hom/haar toestemming gee om van tyd tot tyd by jou in te loer en te vra, ‘Hoe gaan dit met jou probleem?’ Die wete dat iemand jou oor jou probleem gaan uitvra, is ekstra aansporing om nie aan die versoeking toe te gee nie. Dit mag dalk die ekstra aansporing wees om jou op die pad na oorwinning en selfbeheersing aan die beweeg te kry.
Sielskos: Eks 20:16; Spr 24:28; Matt 5:33-37; Hand 5:1-11
2018-03-03
Filippense 4:13 NLV
Begin glo dat jy kan verander. Jou oortuigings beheer jou gedrag. Die manier waarop jy dink bepaal hoe jy voel. Wanneer jou gevoelens sterk genoeg word, kan dit die manier wat jy optree, bepaal. Die persoon wat sê, ‘Ek kan dit nie doen nie,’ en die persoon wat sê, ‘Ek kan dit doen,’ is altwee reg. Dikwels stel jy jouself oop vir mislukking deur dit wat jy sê. Jou woorde versterk óf jou regte óf jou verkeerde geloofsisteem. Drie keer in 1 Petrus, herinner God ons daaraan om helder van verstand te wees en selfbeheersing te hê. Hoekom? Omdat ‘n helder verstand noodsaaklik vir selfbeheersing is. God het ons die mag om ons gewoontes te verander gegee toe Hy vir ons die mag gegee het om ons gedagtes te kies. Sê Romeine twaalf vers twee vir ons om deur harde werk of pure wilskrag getransformeer te word? Nee. Waardeur word ons getransformeer? Deur ons denkpatrone te vernuwe. Wanneer jou selfbeheersing getoets word, moet jy jou gedagtes met God se beloftes vul. Hier is een: ‘…Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Jy moet God glo wanneer Hy sê dat daar vir jou ‘n uitweg is. Paulus skryf, ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Dit beteken dat jy kan verander, dat jy anders kan wees. Hou op om jouself vir mislukking oop te stel deur jouself aanhoudend te kritiseer. ‘Ek is nie goed genoeg nie. Ek het eenvoudig geen beheer oor my lewe nie.’ Om aanhoudend te kla werk nie. Sê eerder, ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV). ‘Ek glo!’
Sielskos: 1 Kon 21-22; Matt 20:1-16; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25