Geheime vir selfbeheersing (5)

2018-03-04
Galasiërs 6:2 NLV

Maak jouself toerekenbaar teenoor iemand. Alkoholiste Anoniem het ‘n ‘maat sisteem’ waarvolgens jy aangemoedig word om iemand te skakel wanneer jy die druk begin voel om in ‘n ou, destruktiewe patroon terug te val. Dis ‘n Skriftuurlike beginsel: ‘Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle’ (vers 2 DB). Kry iemand wat by jou sal hoor hoe dit gaan en jou in areas wat jy meer selfbeheersing wil hê, sal bemoedig. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied…’ (Prediker 4:12 NLV). Elke kerk het sulke verhoudings nodig waar mense aan mekaar toerekenbaar gehou word; verhoudings waarin mense mekaar in die Here aanmoedig. Om aan iemand toerekenbaar te wees is moeilik, maar dit werk. Waarvoor moet jy in ‘n maat vir so ‘n verhouding uitkyk? Eerstens, moet hulle dieselfde geslag as jy wees. Jy het nie nodig om nog ‘n versoeking in jou pad te sit deur persoonlike probleme met iemand van die teenoorgestelde geslag te deel nie. Tweedens moet jy vir iemand uitkyk op wie jy kan staatmaak om deur te druk met hulle verpligtinge – iemand wat getrou is. Derdens, kyk uit vir iemand wat jou probleem konfidensieel sal hou. Moenie iemand kies wat bekend daarvoor is dat hulle te veel praat nie. Vierdens, sê vir jou maat dat jy hom/haar toestemming gee om van tyd tot tyd by jou in te loer en te vra, ‘Hoe gaan dit met jou probleem?’ Die wete dat iemand jou oor jou probleem gaan uitvra, is ekstra aansporing om nie aan die versoeking toe te gee nie. Dit mag dalk die ekstra aansporing wees om jou op die pad na oorwinning en selfbeheersing aan die beweeg te kry.

Sielskos: Eks 20:16; Spr 24:28; Matt 5:33-37; Hand 5:1-11