Geheime vir selfbeheersing (6)

2018-03-05
Efesiërs 4:26-27 NLV

Vermy die dinge wat jou in die versoeking bring. Bly weg van situasies af wat jou selfbeheersing laat verswak. As jy nie gesteek wil word nie, bly weg van bye af. Beplan vooruit om situasies te vermy wat jy weet gaan veroorsaak dat versoeking jou lewe binnekom. Moenie lekkergoed in die spens hou as jy probeer dieet nie. Moenie kredietkaarte kry as jy impulsief dinge koop nie. Raak ontslae van jou toegang tot pornografie as jy daarmee sukkel. As jy ‘n tiener is, is die tyd om aan selfbeheersing te begin dink nie wanneer jy op die agtersitplek van ‘n kar saam met iemand is nie. Vraag: Wat moet jy vermy? Of van ontslae raak? Tydskrifte? Boeke? DVD’s? ‘n Verhouding? Die Bybel sê, ‘…slegte geselskap bederf goeie gewoontes’ (1 Korintiërs 15:33 NLV). Vermy mense en situasies wat jou versoek. Dit mag dalk nodig wees dat jy van werk verander omdat daar ‘n verhouding is wat verkeerd en nadelig is vir jou. Dis ‘n drastiese stap, maar dis dalk nodig dat jy iets drasties doen om dit wat jou op hierdie spesifieke tyd versoek, te vermy. As jy deur jare van herhalende mislukking geleef het, is dit tyd om eerlik en nederig te wees. Dis tyd om te bid: ‘Here, ek is nie sterk genoeg om hierdie versoeking alleen te weerstaan nie. Help my!’ Hy sal jou help. ‘Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV).

Sielskos: Op 1-4; Matt 20:17-34; Ps 70; Spr 6:26-28