Geheime vir selfbeheersing (3)

2018-03-02
Titus 2:12 DB

Praat terug met jou gevoelens. Ons sit heeltemal te veel klem op ons gevoelens. Ons dink dat alles moet goed voel, so nie is dit nie die moeite werd nie. Ons sê dinge soos, ‘Ek voel nie lus om te werk nie… Ek voel nie lus om my Bybel te lees nie.’ Of, ‘Ek voel of ek nog ‘n drankie wil drink… Ek is lus om tot laatoggend te slaap.’ Moenie jou gevoelens so baie outoriteit gee nie. Gevoelens is hoogs onbetroubaar; as jy hulle toelaat, sal hulle jou beheer en manipuleer. God wil nie hê dat jy deur jou gevoelens beheer moet word nie. Hy wil hê dat jy jou buie moet bemeester. Met Christus as die Heerser van jou lewe, kan jy jou gevoelens beheer. Praat terug met hulle. God sê dat Hy wil hê dat jy moet leer om jou emosies uit te daag. ‘Nou wys Hy vir ons hoe om ‘n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef…’ God se genade gee jou die krag om te doen wat reg is. Dit gee jou die vermoë om nee te sê vir daardie gevoel, daardie begeerte, daardie impuls. Sukkel jy met jou gewig? Voor jy die yskas oopmaak, het jy reeds met jouself oor kos begin praat. As jy ernstig is, sal jy sommige van hierdie onderbewustelike houdings teenoor kos moet begin uitdaag. Wanneer jy jou gevoelens hoor sê, ‘Ek moet net ietsie eet of ek gaan doodgaan,’ moet jy antwoord, ‘Nee, ek gaan nie doodgaan nie. Ek gaan inderwaarheid gesonder wees as ek nie nou iets eet nie.’ Die feit is: God se bonatuurlike krag kan jou help om jou buie, gedagtes en begeertes te bemeester.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Geheime vir selfbeheersing (2)

2018-03-01
Romeine 14:4 NLV

Sit die verlede agter jou. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV). Hierdie Skrifgedeelte ontbloot ‘n algemene wanopvatting wat jou daarvan weerhou om selfbeheersing te kry: Een keer ‘n mislukking, altyd ‘n mislukking! Jy mag dalk sê, ‘Ag, ek het probeer om my slegte gewoonte te breek. Ek gaan seker maar nooit beheer daaroor kry nie.’ Dit is ‘n wanopvatting. Paulus sê, ‘…Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op’ (2 Korintiërs 4:9 DB). Het jy al ooit ‘n baba wat leer loop dopgehou? Hulle val baie, maar hulle hou aan probeer en is uiteindelik suksesvol. Hoe ver dink jy sou hulle kom as hulle net opgegee het en gesê het, ‘Sommige mense is net nie bedoel om te kan loop nie’? Mislukking in die verlede beteken nie dat jy nooit sal kan verander nie. Om egter op mislukkings in die verlede te fokus, waarborg dat jy hulle sal herhaal. Dis soos om ‘n kar te bestuur terwyl jy in die truspieëltjie kyk. Jy gaan bots met wat ook al voor jou is. Jy moet jou verlede agter jou sit. Niemand het meer mislukkings as Thomas Edison ervaar nie. Die meeste van ons sou tou opgegooi het, maar nie hy nie. Hy het een keer gesê, ‘Moet dit nie ‘n mislukking noem nie, noem dit ‘n leerskool! Nou weet ek wat nie werk nie!’ Wanneer jy besef dat sonde nie werk nie, is dit ‘n beslissende oomblik en ‘n springplank na oorwinning. ‘n Wenner is eenvoudig iemand wat een keer meer opstaan as wat hulle val. Die woord vir jou vandag is dus: ‘…[Jy] sal ook die toets slaag – daarvoor sal ons Here in sy almag sorg.’

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 19:1-14; Ps 61; Spr 6:16-19

Geheime vir selfbeheersing (1)

2018-02-28
Jakobus 1:14 ABA

Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om selfbeheersing te ontwikkel. Hier is die eerste stap: Aanvaar verantwoordelikheid vir jou gebrek aan selfbeheersing. Erken jou probleem. ‘Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen…’ Die grootste rede hoekom jy dinge doen – is omdat jy daarvan hou! Wanneer jy weet dat iets vir jou sleg is en dit steeds doen, is dit omdat jy dit wil doen. Soms probeer ons die probleem van selfbeheersing ignoreer of ons ontken dit: ‘Watse probleem? Ek het nie ‘n probleem nie,’ of ‘Dis maar net hoe ek is,’ of ‘Almal anders doen dit.’ Soms blameer ons ander: ‘As ek maar net ander ouers gehad het,’ of ‘Die Duiwel het my dit laat doen.’ Solank as wat jy jou energie op verskonings mors, kan jy nie vooruitgang maak nie. Jakobus wys ons daarop dat ons daarvan hou om die pad van die minste weerstand te volg en dit is gewoonlik maar die maklikste om net tot die versoeking toe te gee. Die beginspunt om selfbeheersing te ontwikkel, is om dit wat God reeds in sy Woord gesê het, in die gesig te staar: ‘…elkeen wat aanhou sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde’ (Johannes 8:34 NLV). Wil jy meer selfbeheersing hê? Erken dan dat jy ‘n probleem het en wees spesifiek daaroor: ‘Ek het hierdie probleem. Dis waar ek hulp nodig het.’ Jy mag dalk ‘n probleem met kos, drank, dwelms, werk, jou humeur, geld, oefening, seks, televisie, klere of tyd hê – al hierdie areas het selfbeheersing nodig. Gaan dus vandag op jou knieë en praat met God oor jou probleem, met die geloof dat jy dit met sy hulp kan oorkom.

Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 18:21-35; Ps 58; Spr 6:12-15

Gevegsreëls

2018-02-27
Spreuke 15:1 NLV

Selfs in die beste van huwelike sal argumente van tyd tot tyd voorkom. Met twee mense met verskillende temperamente, smake en denkwyses, hoe dan anders? Hier is dus ‘n paar gevegsreëls: 1) Dink voor jy praat. Vra jouself af of dit vrees, stres of kommer kan wees wat jou maat se reaksie uitgelok het. Pla dit jou omdat jy onseker of ongewaardeerd voel? Neem tyd om te probeer identifiseer wat regtig aan die gang is. 2) Vra vir dit wat jy nodig het. Dis heeltemal in die haak om te erken dat jy sommige dae behoeftiger as ander dae is. Dr Gary Oliver sê: ‘Wanneer ‘n vrou elke keer paniekerig voel wanneer haar man laat by die huis kom omdat haar vorige man ‘n affair gehad het, is dit in die haak om te sê, ‘Ek weet dit is irrasioneel, maar vandag voel ek paniekerig.’ Hierdie tipe eerlikheid versterk ‘n verhouding. 3) Moet nooit dreig nie. Dreigemente maak jou maat net op die verdediging en onseker. Gevolglik kan hulle nie hoor wat jy sê nie en niks word opgelos nie. 4) Raak van die bagasie van vorige verhoudings ontslae. Die Bybel sê, ‘Om ander lief te hê beteken… om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie’ (1 Korintiërs 13:4-5 DB). Dis verkeerd om van jou maat te verwag om hulself oor en oor te ‘bewys.’ Moenie aanneem dat ou verhoudingsprobleme hulself weer gaan herhaal nie. Dit sal nie gebeur as jy kommunikeer en groei nie. 5) Sê elke dag vir jou maat iets moois. Enige tyd wanneer jy aan iets goeds van jou eggenoot dink, stop en sê dit vir hulle. Onthou, skerp woorde kan wonde veroorsaak, maar “‘n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere…”

Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 18:10-20; Ps 53; Spr 6:9-11

In plaas van om jou te bekommer, bid

2018-02-26
Filippense 4:6 NLV

‘n Bybelonderwyser skryf: “Die druk van ons lewens het baie van ons in ‘n web van die mees aanvaarbare, maar dreinerendste sonde in die Christelike familie vasgevang: kommer. Die kans is goed dat jy vanmôre opgestaan het en, voor jy nog iets anders gedoen het, jou rugsak van kommer aangetrek het. Jy het die dag nie met ‘n gebed begin nie, maar is deur bekommernis afgerem. Wat ‘n aaklige gewoonte! Jesus het sy volgelinge met die volgende vraag uitgedaag, ‘Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?..’ (Matteus 6:27 NLV). Bekommernis los niks op nie. Dit skep onrus en ongemak en as dit nie hanteer word nie, kan dit ons angs in ‘n perfekte storm van emosies opsweep. As jy ‘n bietjie verbeelding en kreatiwiteit byvoeg, word ons grootste vrese lewendig in ons gedagtes. Die stres van kommer dreineer ons energie, neem ons gedagtes in beslag en stroop ons van ons vrede. Ons stres oor klein en groot dinge. Sommige van ons het ‘n lys van kwessies wat ons verslawing aan kommer voed. Dis ‘n baie onaantreklike verslawing, maar ons slaag tog daarin om ‘n grap daarvan te maak. Ek het al mense met ‘n glimlag hoor sê, ‘As ek nie iets het om myself oor te bekommer nie, raak ek bekommerd omdat ek nie iets het om my oor te bekommer nie.’ Angs het ‘n gunsteling tydsverdryf geword wat ons lief is om te haat. Die ergste is dat ons dit aan ons kinders oordra. Ons mentor hulle in die kuns van kommer wanneer hulle die kommer op ons gesigte sien en dit uit ons monde hoor.’ Wat is dus die antwoord? ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles…’

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 18:1-9; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Versterk jou geloof (3)

2018-02-25
Psalm 56:4 NLV

Geloof is soos ‘n spier; probleme mag dit dalk strek, maar dit groei op die ou einde sterker. Dawid het hierdie waarheid verstaan. Hy is aanhoudend deur sy vyande gejag. Saul het selfs nog op die troon gesit toe Dawid as koning van Israel ingeseën is. In plaas van om geloof in God se belofte te verloor, het Dawid verklaar, ‘…Die Here het die getroues vir Hom afgesonder. Die Here sal antwoord wanneer ek tot Hom roep’ (Psalm 4:4 NLV). Toe die Filistyne hom gevange geneem het, het hy gebid, ‘My aanvallers soek my lewe sonder ophou, en baie val my aan, o Allerhoogste. Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou’ (Psalm 56:3-4 NLV). Toe hy in ‘n grot opgeëindig het waar hy voor Saul se jaloerse toorn gevlug het, het hy gesê, ‘…In die skaduwee van u vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). Gedurende die derde eeu, toe St Felix van Nola vir sy vyande gevlug het, het hy skuiling in ‘n grot gesoek. Met die loop van tyd het ‘n spinnekop sy web oor die klein opening begin spin, wat dit laat lyk het of daar al maande lank niemand daar binne was nie. As gevolg daarvan het sy vyande verby die grot geloop. Toe hy weer in die sonskyn uitklim, het Felix verklaar, ‘Waar God is, is ‘n spinnekop se web ‘n muur. Waar God nie is nie, is ‘n muur ‘n spinnekop se web.’ Soms sal jy in ‘n grot opeindig oor iets wat jy gedoen het, of as gevolg van omstandighede waaroor jy geen beheer het nie. Met God aan jou sy, kan jy egter sê, ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou.’

Sielskos: Eks 20:15; Jos 7:1-26; Tit 2:6-10; Ef 4:28