Versterk jou geloof (2)

2018-02-24
2 Kronieke 20:17 NLV

Wanneer jy God betwyfel, stel jy Hom teleur, want Hy verdien beter. Jy moet dus daarna strewe om jou geloof te versterk, want geloof eer God en God eer geloof. Hy sal geleenthede, wat as probleme vermom is, stuur wat ontwerp is om jou geloof te versterk. Toe Job sy gesondheid, sy rykdom en sy kinders verloor het, sê die Bybel het hy gesê ‘…Wat ek het, het die Here vir my gegee. Die Here het dit ook weer weggevat. Die Here moet geprys word!’ (Job 1:21 DB). Job het nie God as gevolg van sy omstandighede geprys nie, maar ten spyte daarvan. Let twee dinge op wat hy gedoen het: 1) Hy het opgekyk. Hy het God se soewereine reg om alle dinge te besluit, erken. Hy het God se liefdevolle karakter vertrou en het geglo dat Hy sal doen wat die beste vir hom is. Jy moet dit ook doen! 2) Hy het vir ‘n boodskap geluister. Hy het besef dat ‘n tyd van beproewing ook ‘n tyd van onderrig is, dus het hy verklaar: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar’ (Job 23:10 NLV). Soos goud wat gesuiwer word, het Job vir God vertrou om die beste in hom na vore te bring. Was dit maklik? Nee. Ons wil aan die bekende vasklou en na die sekuriteit van gister toe terugkeer, selfs al weet ons dat dit nie is wat God vir ons wil hê nie. Die vrese, verrassings en teenspoed wat om die draai lê wil ons laat opgee en weghardloop. Wat moet jy eerder doen? Posisioneer jouself in geloof: ‘…Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle…’ Wat jy ook al vandag deurmaak, onthou dat God met jou is.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 17:14-27; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5

Versterk jou geloof (1)

2018-02-23
Hebreërs 11:2 DB

Die Bybel sê: ‘…Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien nie. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het’ (verse 1-2 DB). Die helde van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 gelys word was ver van perfek af. Noag het God geglo, die ark gebou en sy familie gered. Hy het egter dronk geword toe hy uit die ark gekom het. Abraham was bekend as ‘God se vriend,’ en tog het hy gejok om homself te red en sy vrou se lewe in gevaar gestel. Toe God vir Sara sê dat sy op die ouderdom van negentig ‘n kind sou kry, het sy gelag. Josef was ‘n slaaf met ‘n kriminele rekord wat op die ou einde tweede in bevel van Egipte was. Dan is daar Ragab die prostituut – ons sou haar nie toegelaat het om in die kerkkoor te sing nie – en tog het God haar ‘n vrou met groot geloof genoem. Wat van Jakob, wat sy broer geflous het en sy skoonpa in besigheid bedrieg het om homself te verryk? Sou jy met hom besigheid doen? Koning Dawid se ontug het tot moord en nasionale skandaal gelei. Selfs Gideon en Samuel, twee geestelike reuse, het kinders grootgemaak wat geestelik die pad byster geraak het. Elkeen van hierdie mense het gestruikel, die bal laat val en deur tye van mislukking gegaan. Hulle enigste aanspraak op roem is dat hulle God geglo het en dat Hy hulle geloof geëer het – Hy sal dieselfde vir jou doen elke keer wat jy jou vertroue in Hom plaas.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 17:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Onthou diegene wat jou gehelp het

2018-02-22
Filippense 4:16 NLV

Charles Swindoll vertel die verhaal van die boom wat gee: ‘Toe die seun jonk was het hy aan die boom se takke geswaai, haar appels geëet en in haar skaduwee geslaap. Soos hy egter groter geword het het hy minder en minder tyd met die boom spandeer. ‘Kom, kom ons speel,’ het die boom gesê. Die jong man was egter net in geld geïnteresseerd. ‘Neem dan al my appels en verkoop hulle,’ het die boom gesê. Die man het dit gedoen en die boom was bly. Hy het vir lank nie teruggekeer nie, maar die boom het geglimlag toe hy weer een dag daar verby loop. ‘Kom, kom ons speel!’ Maar die man, ouer en moeg vir die wêreld, wou net van alles af wegkom. ‘Kap my af, maak ‘n boot daarvan en dan kan jy wegseil,’ het die boom gesê. Die man het dit gedoen en die boom was gelukkig. Baie seisoene het verby gegaan – en die boom het gewag. Uiteindelik het die man terug gekeer, te oud om te speel, rykdom na te jaag of die oseane te deurkruis. ‘Ek het ‘n heel goeie stomp oor. Sit hier en rus,’ het die boom gesê. Die man het dit gedoen en die boom was bly.’ Swindoll vertel verder: ‘Ek het in die vuur gestaar en teruggekyk op my lewe. Ek het met beide die boom en die seun geïdentifiseer – en dit het seergemaak. Hoeveel bome wat gee was daar in my lewe? Hoeveel mense het hulleself gegee sodat ek kan groei, my doelwitte kan bereik en vervulling en bevrediging kan kry? Dankie, Here, vir elkeen van hulle. Ek was dankbaar dat ek die tyd geneem het om oor my lewe te reflekteer.’ Paulus het diegene onthou wat hom gehelp het – en jy moet ook.

Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 16:13-28; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Waar lewe jy vandag?

2018-02-21
Efesiërs 3:20 NLV

Israel se reis van Egipte na die Beloofde Land illustreer drie verskillende plekke waar jy kan kies om te lewe: 1) Die plek van ‘nie genoeg nie.’ As slawe in Egipte, was hulle geforseer om op Farao vir alles staat te maak. Wanneer jy aanhou om op enigiemand behalwe God staat te maak, is jy nie waarlik vry nie. Totdat jy verstaan dat God jou versorger is, sal jy met ‘n ‘nie genoeg nie’ mentaliteit lewe. Elia het in die middel van ‘n hongersnood langs ‘n rivier gebly en kraaie het elke dag vir hom vleis gebring. God het egter hierdie tydelike bron laat opdroog om Elia terug na sy ware bron toe te dryf. Maak nie saak wat of wie Hy gebruik nie – God is jou bron. 2) Die plek van ‘net genoeg.’ Israel het in die woestyn net genoeg manna vir elke dag gehad. Dis nie pret om te sukkel om net te oorleef nie. Ons waardeer egter dit wat ons sukkel om te kry en ons leer om God meer te vertrou. Wanneer jy deur sulke seisoene lewe, bou dit in jou die volharding om aan te hou voortbeweeg tot beter dinge. 3) Die plek van ‘meer as genoeg.’ God se plan vir Israel was ‘…’n land met ‘n oorvloed van kos sonder enige gebrek…’ (Deuteronomium 8:9 NLV). Sy doel is om vir jou oorvloed in elke aspek van jou lewe te gee (sien 2 Korintiërs 9:8). Is dit sodat jy dit kan opgaar? Nee, dis sodat jy ander daarmee kan seën en jou roeping in die lewe kan vervul. Staan dus op hierdie Skrifgedeelte: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.’

Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 16:1-12; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Hoe om paniekaanvalle te hanteer

2018-02-20
Spreuke 3:25 ABA

Jy kan nie asem kry nie, jou handpalms sweet, jou bors is styf en jy voel swak. As jy al ooit ‘n paniekaanval gekry het, sal jy hierdie simptome herken. Dokters skat dat omtrent ‘n derde van ons ten minste een paniekaanval per jaar kry. As jy een van hierdie mense is, is hier ‘n paar goed wat jy kan doen om jouself te help: 1) Haal diep asem. Paniek laat jou kort en oppervlakkig asemhaal, terwyl diep asemteue jou kalmeer en jou laat ontspan. Wanneer jy dus oorweldig voel, stop en asem die naam van Jesus in. Probeer dit; dit werk! 2) Praat met jouself. Sê, ‘Deur God se genade kan ek hierdie hanteer’ (sien 2 Korintiërs 12:9). As jy met nog paniek reageer, sal jy net verder in die moeilikheid beland. Om jouself toe te laat om paniekerig te wees sonder om daaraan toe te gee, klink dalk moeilik aan die begin, maar dit help jou om die siklus te breek en beheer van jou denke te neem. 3) Doen iets kalmerends. Dit mag dalk die laaste ding wees wat jy lus is om te doen, omdat paniekaanvalle jou instinktief gedagtes laat dink wat jou vrees voed. Neem dus ‘n minuut en fluister ‘n gebed, haal ‘n teksvers aan, luister na inspirerende musiek of praat met ‘n vriend. As jou paniekaanval aanhou, is daar geen rede om skaam te wees om professionele hulp te kry nie. Dit is immers God wat aan dokters die vaardighede gee om jou te kan help. Hier is ‘n Skrifgedeelte wat jy moet neerskryf en byderhand moet hou: ‘Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap. Jy hoef nie bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie… Die Here is jou beskermer…’ (Spreuke 3:24-26 NLV).

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 15:29-39; Ps 28; Spr 5:3-6

Sewe sekondes (3)

2018-02-19
Johannes 10:11 NLV

Jy kry nooit ‘n tweede kans om ‘n goeie eerste indruk te maak nie. Jou boodskap mag dalk wonderlik en van toepassing op jou gehoor wees, maar die uitdrukking op jou gesig kan mense verkeerd beïnvloed nog voor jy jou mond oopgemaak het. Het jy al ooit opgelet hoeveel mense het slegte herinneringe van hulle grootwordjare in die kerk? Hulle onthou streng, vurige, vreemde mense wat oordeel oor die grootste deel van die wêreld uitgespreek het. Wat ‘n ondiens aan God! Jesus het gesê, ‘Ek is die Goeie Herder…’ Die woord ‘goed’ kom van die Griekse woord kelos af, wat ‘bekoorlik’ [aantreklik, aangenaam, innemend] beteken. Jesus se houding het mense elke keer vir Hom gewen! Wat ons sê tel net 7 persent van wat mense glo. Hoe ons dit sê tel 38 persent. Wat hulle sien tel 55 persent. Wonderbaarlik het meer as 90 persent van ons nie-verbale leidrade niks te doen met wat ons besig is om te sê nie! As jy dus dink dat kommunikasie net oor woorde gaan, sit jy die pot mis en is die kans goed dat jy dit moeilik vind om met ander mense te skakel. ‘n Personeellid het een keer vir Abraham Lincoln gevra om vir een van sy vriende ‘n werk te gee. Nadat hy ‘n onderhoud met die man gevoer het, het Lincoln nie vir hom die werk aangebied nie. Toe hy gevra word hoekom nie, het Lincoln geantwoord, ‘Omdat ek nie van die uitdrukking op sy gesig gehou het nie.’ Toe die personeellid protesteer en sê, ‘Dis nie regverdig nie! Mens kan nie help hoe mens se gesig lyk nie!’ het Lincoln geantwoord, ‘Dis waar jy verkeerd is. Elkeen oor veertig is verantwoordelik vir die uitdrukking op sy gesig.’ So, wat sê jou gesigsuitdrukking vir ander mense?

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 15:15-28; Ps 5; Spr 5:1-2