Versterk jou geloof (1)
2018-02-23Hebreërs 11:2 DB
Die Bybel sê: ‘…Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien nie. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het’ (verse 1-2 DB). Die helde van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 gelys word was ver van perfek af. Noag het God geglo, die ark gebou en sy familie gered. Hy het egter dronk geword toe hy uit die ark gekom het. Abraham was bekend as ‘God se vriend,’ en tog het hy gejok om homself te red en sy vrou se lewe in gevaar gestel. Toe God vir Sara sê dat sy op die ouderdom van negentig ‘n kind sou kry, het sy gelag. Josef was ‘n slaaf met ‘n kriminele rekord wat op die ou einde tweede in bevel van Egipte was. Dan is daar Ragab die prostituut – ons sou haar nie toegelaat het om in die kerkkoor te sing nie – en tog het God haar ‘n vrou met groot geloof genoem. Wat van Jakob, wat sy broer geflous het en sy skoonpa in besigheid bedrieg het om homself te verryk? Sou jy met hom besigheid doen? Koning Dawid se ontug het tot moord en nasionale skandaal gelei. Selfs Gideon en Samuel, twee geestelike reuse, het kinders grootgemaak wat geestelik die pad byster geraak het. Elkeen van hierdie mense het gestruikel, die bal laat val en deur tye van mislukking gegaan. Hulle enigste aanspraak op roem is dat hulle God geglo het en dat Hy hulle geloof geëer het – Hy sal dieselfde vir jou doen elke keer wat jy jou vertroue in Hom plaas.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 17:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23