Sewe sekondes (3)
2018-02-19Johannes 10:11 NLV
Jy kry nooit ‘n tweede kans om ‘n goeie eerste indruk te maak nie. Jou boodskap mag dalk wonderlik en van toepassing op jou gehoor wees, maar die uitdrukking op jou gesig kan mense verkeerd beïnvloed nog voor jy jou mond oopgemaak het. Het jy al ooit opgelet hoeveel mense het slegte herinneringe van hulle grootwordjare in die kerk? Hulle onthou streng, vurige, vreemde mense wat oordeel oor die grootste deel van die wêreld uitgespreek het. Wat ‘n ondiens aan God! Jesus het gesê, ‘Ek is die Goeie Herder…’ Die woord ‘goed’ kom van die Griekse woord kelos af, wat ‘bekoorlik’ [aantreklik, aangenaam, innemend] beteken. Jesus se houding het mense elke keer vir Hom gewen! Wat ons sê tel net 7 persent van wat mense glo. Hoe ons dit sê tel 38 persent. Wat hulle sien tel 55 persent. Wonderbaarlik het meer as 90 persent van ons nie-verbale leidrade niks te doen met wat ons besig is om te sê nie! As jy dus dink dat kommunikasie net oor woorde gaan, sit jy die pot mis en is die kans goed dat jy dit moeilik vind om met ander mense te skakel. ‘n Personeellid het een keer vir Abraham Lincoln gevra om vir een van sy vriende ‘n werk te gee. Nadat hy ‘n onderhoud met die man gevoer het, het Lincoln nie vir hom die werk aangebied nie. Toe hy gevra word hoekom nie, het Lincoln geantwoord, ‘Omdat ek nie van die uitdrukking op sy gesig gehou het nie.’ Toe die personeellid protesteer en sê, ‘Dis nie regverdig nie! Mens kan nie help hoe mens se gesig lyk nie!’ het Lincoln geantwoord, ‘Dis waar jy verkeerd is. Elkeen oor veertig is verantwoordelik vir die uitdrukking op sy gesig.’ So, wat sê jou gesigsuitdrukking vir ander mense?
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 15:15-28; Ps 5; Spr 5:1-2