Geheime vir selfbeheersing (2)
2018-03-01Romeine 14:4 NLV
Sit die verlede agter jou. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV). Hierdie Skrifgedeelte ontbloot ‘n algemene wanopvatting wat jou daarvan weerhou om selfbeheersing te kry: Een keer ‘n mislukking, altyd ‘n mislukking! Jy mag dalk sê, ‘Ag, ek het probeer om my slegte gewoonte te breek. Ek gaan seker maar nooit beheer daaroor kry nie.’ Dit is ‘n wanopvatting. Paulus sê, ‘…Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op’ (2 Korintiërs 4:9 DB). Het jy al ooit ‘n baba wat leer loop dopgehou? Hulle val baie, maar hulle hou aan probeer en is uiteindelik suksesvol. Hoe ver dink jy sou hulle kom as hulle net opgegee het en gesê het, ‘Sommige mense is net nie bedoel om te kan loop nie’? Mislukking in die verlede beteken nie dat jy nooit sal kan verander nie. Om egter op mislukkings in die verlede te fokus, waarborg dat jy hulle sal herhaal. Dis soos om ‘n kar te bestuur terwyl jy in die truspieëltjie kyk. Jy gaan bots met wat ook al voor jou is. Jy moet jou verlede agter jou sit. Niemand het meer mislukkings as Thomas Edison ervaar nie. Die meeste van ons sou tou opgegooi het, maar nie hy nie. Hy het een keer gesê, ‘Moet dit nie ‘n mislukking noem nie, noem dit ‘n leerskool! Nou weet ek wat nie werk nie!’ Wanneer jy besef dat sonde nie werk nie, is dit ‘n beslissende oomblik en ‘n springplank na oorwinning. ‘n Wenner is eenvoudig iemand wat een keer meer opstaan as wat hulle val. Die woord vir jou vandag is dus: ‘…[Jy] sal ook die toets slaag – daarvoor sal ons Here in sy almag sorg.’
Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 19:1-14; Ps 61; Spr 6:16-19