Breek jou albaste fles (1)

2018-03-12
Lukas 7:37 NLV

Die Bybel sê, “‘n Sekere vrou van losse sedes… het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval… Toe het sy… aromatiese olie daaraan gesmeer” (verse 37-38 NLV). Hierdie olie was suiwer nardusolie, ‘n meerjarige krui wat in die Himalajas geoes word. ‘n Halwe liter daarvan! Die fles, wat van deurskynende edelstene gemaak was, was heel waarskynlik ‘n familie erfstuk. Dit mag dalk selfs haar bruidskat gewees het. Dit was eenvoudig haar kosbaarste besitting. Hoe ironies, maar tog toepaslik, dat die parfuum wat sy in haar beroep as prostituut gebruik het, die kenteken van haar belydenis van geloof sou word toe sy elke laaste druppel oor die voete van Jesus gegiet het. Die breek van daardie fles was haar breek met haar verlede. Sy sou nie meer die stank van sonde met die soet geur van parfuum probeer verdoesel nie. Geen geheime meer nie. Geen skande meer nie. Sy het uit die donker skaduwee van sonde in die lig van die wêreld uitgestap. Daar kom ‘n oomblik wat jy al jou kaarte op die tafel voor God moet sit. ‘n Oomblik waar jy al jou geheime, struikelblokke en sondes moet openbaar. ‘n Oomblik waar jy met jou volle gewig op die genade van God moet val. Hoekom tree ons op asof ons sonde ons diskwalifiseer om die genade van God te ontvang? Dit is die enigste rede wat ons daarvoor kwalifiseer! Enigiets anders is ‘n eiegeregtige poging om God se genade te probeer verdien. Jy kan nie God se genade net 99% vertrou nie. Dis alles of niks. Wanneer ons onsself probeer red, verbeur ons die redding wat alleenlik deur Jesus Christus kom, met genade deur geloof (sien Efesiërs 2:8-9)

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9