Breek jou albaste fles (3)

2018-03-14
Markus 14:6 NLV

Toe die vrou haar albaste fles gebreek het, was die reaksie van die dissipels treffend. ‘…Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?..’ (vers 4 NLV). Hulle het gedink sy verspil haar parfuum toe sy dit oor Jesus se voete gegiet het. Hulle het dit ‘n vermorsing genoem, maar Hy het dit “‘n weldaad” genoem. Toe het Hy voortgegaan om te sê, ‘Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!’ (vers 9 NLV). Kan jy jou indink wat so ‘n stelling vir haar selfvertroue gedoen het? Sy het heel waarskynlik jare laas ‘n vriendelike woord of ‘n kompliment gekry. Niemand kan potensiaal soos Jesus raaksien nie, omdat Hy die Een is wat dit in die eerste plek vir ons gee. Dis ook hoekom God nooit op jou sal opgee nie. Dis nie in sy aard nie (sien Filippense 1:6). Sy ‘…goedheid en trou vergesel [jou] al die dae van [jou] lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hierdie vrou was desperaat genoeg om ongenooid by die partytjie op te daag. Jesus reageer op desperate mense. Hoe desperaat is jy? Desperaat genoeg om ‘n verandering te maak, om ‘n opoffering te maak? Desperaat genoeg om deurnag te bid? Die hele Bybel te lees? Die konflik op te los? Met ‘n vriend, wat ‘n verlore saak is, te pleit? Om jou spaargeld vir die uitbreiding van die koninkryk te skenk? Die pad van die minste weerstand sal jou nie bring waar jy moet wees nie. As jy egter vir God uit jou pad gaan, sal God vir jou uit sy pad gaan.

Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20