Praat altyd die waarheid

2018-03-11
Psalm 51:8 NLV

Die Bybel sê, ‘Hy [Jesus]… het nooit enigiemand bedrieg nie…’ (Jesaja 53:9 NLV). As ons God se wil doen, sal ons ook nooit enigiemand bedrieg nie. God wil nie ons bedrog net minimaliseer nie, Hy wil dit heeltemal elimineer. Hy draai nie doekies om as dit by oneerlikheid kom nie. ‘Bedrieërs sal nie in my huis woon nie…’ (Psalm 1.1:7 NLV). Paulus noem die tipes mense op wat nie die koninkryk van God sal erf nie – mense wat onsedelike lewens lei, afgodsdienaars, egbrekers, mense wat dronk word, ander mense besteel en mense wat oor ander lieg (sien 1 Korintiërs 6:9-10). Bedoel dit dat jou leuens en vleiery dieselfde hemelse woede as ontrouheid en aanranding ontlok? Dit kom so voor. God sien mense wat oor hul belastingopgawes jok in dieselfde lig as mense wat afgode dien. ‘Die Here verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan’ (Spreuke 12:22 NLV). Hoekom is God so erg oor oneerlikheid? Omdat oneerlikheid absoluut die teenoorgestelde van God se karakter is (Hebreërs 6:18). Dis nie dat God nie wil jok nie, of kies om nie te jok nie, dis dat Hy nie kán jok nie. ‘n Hond kan nie vlieg nie, ‘n voël kan nie blaf nie en God kan nie jok nie. Wanneer Hy ‘n belofte maak, hou Hy dit. Wanneer Hy ‘n stelling maak, bedoel Hy dit. Wanneer Hy die waarheid proklameer, kan ons dit glo. ‘Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan nie aan Homself ontrou word nie’ (2 Timoteus 2:13 NLV). Dis nie ‘n grys area by God nie, dis swart en wit. As jy dus ernstig daaroor is om ‘n pad met Hom te stap en Hom te bevredig, moet jy altyd die waarheid praat.

Sielskos: Eks 20:17; 2 Kon 5:1-27; Pred 5:10; Luk 12:13-34