Wees lief vir jou kerk (1)

2018-03-26
Efesiërs 5:25 NLV

Voor jy jou kerk kritiseer, onthou dat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het.’ Hy het nie opgegee op sy kerk nie, dus moet jy nie opgee nie! Hou op om so baie oor dit waarvan jy nie hou nie, te praat. As jou kerk perfek was, sou jy uit jou plek gewees het! Noag het nie op die Symphony gevaar nie, hy het op ‘n boot vol diere gevaar. Kan jy jou die geraas en verwarring indink op daardie boot soos dit deur ‘n geweldige storm, groot genoeg om die wêreld te vernietig, gevaar het? En wat van die reuk! Al daardie diere en net een uitlaatklep! Hier is egter die ding – almal in die ark is gered terwyl almal buite die ark verlore gegaan het. Daar is ‘n verhaal van ‘n aristokraat wat oor sy geslagsboom en bloubloed voorvaders gespog het. Geïrriteerd het een van sy luisteraars opgemerk, ‘Ek veronderstel jou voorvaders was saam met Noag aanboord die ark!’ ‘Nee,’ het hy geantwoord, ‘my mense het hulle eie boot gehad.’ Jy mag dalk glimlag, maar daar is net een boot wat veilig in die hemel se hawe gaan aankom en dit is die boot van verlossing. Stink dinge soms in die kerk? Sekerlik. Jesus het vir Petrus, die dissipel wat bestem was om ‘n leier in die kerk te word, hard bestraf: ‘…Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie’ (Matteus 16:23 NLV). Die groot faktor is egter dat wanneer jy foute maak, dieselfde genade wat Petrus herstel het, ook vir jou beskikbaar is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees lief vir jou kerk!

Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Dis tyd om aan te beweeg!

2018-03-25
Hebreërs 6:1 NLV

Werk dit wat in die verlede gewerk het nie meer vir jou nie? Miskien is dit ‘n werk wat jy ontgroei het, of ‘n verhouding wat jy moet ondersoek, of ‘n metode wat jy moet verander. Maak nie saak wat dit is nie, moenie so ingeburger word dat jy nie kan laat gaan en aanbeweeg wanneer dit nodig is nie. Hulle sê dat die hermietkreef ‘n skulp soek wat hom pas en dan daarin lewe totdat hy dit ontgroei. Op daardie punt hardloop hy oor die bodem van die oseaan en vind ‘n groter skulp – ‘n proses wat hom dwarsdeur sy lewe herhaal. Hier is dus die vraag: Klou jy aan iets vas wat nie meer pas nie net omdat dit gemaklik en bekend is? Dawid het gesê, ‘As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!’ (Psalm 4:2 AFR53). Jy moet gewillig wees om uit jou gemaksone te beweeg en ‘n bietjie ‘benoud’ te wees. Dit is wat jou laat groei. Geduld en volharding is kwaliteite om te bewonder, maar hulle werk nie in situasies wat jy ontgroei het nie. In plaas van uit te hou en harder te probeer, moet jy op ‘n sekere punt in jou lewe stop en jouself afvra, ‘Is hierdie situasie goed vir my?’ As jy nie seker is nie, vra God vir ‘…onderskeiding om met insig te kan oordeel’ (1 Konings 3:11 NLV). Wanneer Hy dan vir jou sê wat om te doen – doen dit – selfs al voel dit aan die begin nie baie gemaklik nie. Wanneer God sê dis tyd om aan te beweeg, is dit omdat daar ‘n ander ‘skulp’ daar buite is wat ontwerp is om jou nog beter te pas.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

Tree vandag met deernis op

2018-03-24
Matteus 9:36 NLV

Die Psalmdigter skryf, ‘Hulle is soos ligte wat in die donker skyn vir mense wat eerlik lewe, hulle is genadig en goed vir mense wat swaarkry, en hulle doen reg aan ander mense’ (Psalm 112:4 ABA). Deernis of medelye is ‘n reaksie van diep binne-in mens – ‘n skop in die maag. Miskien is dit hoekom ons wegdraai wanneer ons nuusberigte sien van kinders wat in vlugtelingkampe honger ly of hoor van die 1.7 biljoen mense wat op minder as R15 ‘n dag oorleef en elke aand honger gaan slaap. Dis te veel vir ons – veral wanneer ons die behoefte as so oorweldigend sien dat ons nie eers weet waar om te begin om iets daaraan te doen nie. Maar wat as jy iets daaraan kon doen? Wat as jy die lewe vir een persoon wat seer het kon beter maak? ‘Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (Handelinge 3:6-7 NLV). Wat as Petrus gesê het, ‘Ek het nie geld nie, so ek sal maar net my mond hou en verbyloop’? Hy het egter nie, en gevolglik het ‘n man wat al agt-en-dertig jaar gesit en bedel het, opgestaan en in ‘n nuwe lewe in geloop. Jy sê, ‘Maar ek het nie daardie tipe mag nie!’ Nee, maar God het! Wanneer jy iemand se nood sien en jou hand daartoe uitreik, sal God sy mag vrylaat. Dis jou deernis wat dit sal laat gebeur. Tree dus vandag met deernis op.

Sielskos: Hos 11-14; Matt 26:57-75; Ps 13; Spr 8:14-16

S.O.S. gebede

2018-03-23
Psalm 46:1-2 NLV

Een dag het ‘n vrou deur die platteland gery toe sy ‘n tornado sien aankom. Sy het agter haar kar weggekruip en gekyk hoe dit ‘n huis platvee. Toe die tornado verby is, het sy soontoe gehardloop waar daar nou net ‘n gat in die aarde was en ‘n man gesien wat gehurk met sy oë toegeknyp in die tornadoskuiling sit. ‘Is jy okay? Is daar enigiemand anders daar saam met jou?’ het sy gevra. ‘Nee,’ het hy geantwoord. ‘Net ek en God, besig om ‘n dringende gesprek te hê!’ Niks vuur gebed soos ware nood aan nie; in ‘n krisis sal selfs ongelowiges bid. Daar is sekere kwessies in ons lewe wat ons eenvouding nie self kan oplos nie, dus het die Psalmdigter geskryf, ‘In tye van nood sal ek U aanroep, en U sal my antwoord’ (Psalm 86:7 NLV). Wanneer jy uit opsies gehardloop het, ontwikkel jou geloof vinnig en word noodgevalle geleenthede om God se genade en krag op ‘n groter skaal te ervaar. As jy dus vandag in ‘n S.O.S. situasie is, is hier ‘n gebed wat God sal beantwoord: ‘Vader, dit voel asof ek in ‘n onmoontlike situasie is met geen manier daaruit nie. Laat my toe om u teenwoordigheid en die bemoediging van die Gees aan te voel. Herinner my dat met U, alle dinge moontlik is vir diegene wat glo. Van waar ek staan, lyk dinge hopeloos. U is egter die God wat die aarde uit niks geskep het en die Rooi See teruggerol het sodat u kinders dit veilig kon oorsteek. U het die blindes laat sien, die kreupeles laat loop en die dowes laat hoor. Vandag dank ek U dat u my God is en dat U altyd gereed is om in nood te help.’

Sielskos: Hos 6-10; Matt 26:47-56; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Die lewe is wat jy daarvan maak

2018-03-22
Spreuke 15:15 NLV

Daar word ‘n verhaal van ‘n wyse ou man vertel. Elke dag het hy en sy kleindogter in wiegstoele voor sy petrolstasie gesit en die toeriste gegroet wat deur hulle klein dorpie ry. Een dag het ‘n man begin rondkyk asof hy dit oorweeg om na die area toe te trek. ‘Watse tipe dorp is hierdie?’ het hy gevra. Die ou man het geantwoord ‘Wel, van watter tipe dorp is jy?’ Die man het gesê, ‘Een waar die mense vreeslik krities teenoor mekaar is. Dis ‘n regte negatiewe plek om in te bly.’ Die ou man het toe geantwoord, ‘Weet jy, dis presies hoe hierdie dorp ook is.’ Later het ‘n familie daar gestop om petrol in te gooi. Die pa het uitgeklim en vir die ou man gevra, ‘Is hierdie dorp ‘n goeie plek om in te bly?’ ‘Wel, hoe is die dorp waar julle vandaan kom?’ het die ou man gevra. Die man het geantwoord, ‘Waar ek vandaan kom is almal vriendelik en altyd gewillig om mekaar te help. Dit sal erg wees om daar weg te trek.’ Die ou man het geglimlag en gesê, ‘Jy weet, dit klink presies soos hierdie dorp.’ Nadat die familie weg is, het die ou man se kleindogter opgekyk en gevra, ‘Oupa, hoekom het jy vir die eerste man gesê dat hierdie ‘n aaklige plek is om te bly, maar toe die tweede familie vra, het jy gesê dis ‘n wonderlike plek?’ Die ou man het haar in die oë gekyk en gesê, ‘Sussie, maak nie saak waar jy gaan nie, jy neem jou houding saam met jou – en dis wat dit aaklig of wonderlik maak.’ Die lewe is wat jy daarvan maak! Dis hoekom die Bybel sê, ‘…Vir die blymoedige mens is die hele lewe ‘n fees.’

Sielskos: Hos 1-5; Matt 26:26-46; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9

Hoe om mense te help (4)

2018-03-21
Handelinge 3:3 NLV

Petrus en Johannes was gewillig om die verlamde man toe te laat om hulle planne te onderbreek en hulle dalk laat vir die gebedstyd in die tempel te maak – wat ‘n belangrike punt uitlig. Is dit moontlik dat jy so besig met godsdienstige aktiwiteite is dat jy nie tyd vir mense wat seer het, maak nie? Selfsug is een van die maklikste sondes om te pleeg, want wanneer jy besig is, is jy nie bewus dat jy dit pleeg nie. Paulus beskryf Jesus as ‘…die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het’ (Galasiërs 2:20 AFR53). Dit klink dalk of Paulus homself weerspreek, maar Jesus het ons geleer dat ons meer geseënd is wanneer ons gee as wanneer ons ontvang. Om te gee spoor ons aan; om te weerhou dreineer ons. Om te gee benodig energie, wat nie altyd maklik is nie, veral nie in stresvolle situasies nie. Die motiveringspreker Trudy Metzger, wie se kinderjare met mishandeling gepaard gegaan het, het ‘n gewer in haar volwasse jare geword. Sy vind dit egter steeds moeilik om ‘n gewer te wees wanneer sy met sommige mense in haar verlede te doen kry. Sy erken dat sy verdedigend word en die situasie probeer beheer wanneer sy weerloos voel. Wanneer dit gebeur, verander sy van ‘n gewer na ‘n nemer. Sy skryf: ‘Terwyl gee energie benodig, moet ek sê dat situasies waar ek die nemer word, my heeltemal gedreineer laat. Om ‘n gewer te wees bring lewe – soos om ‘n plant water te gee sodat dit kan groei – maar om ‘n nemer te wees is soos om die water en voedingstowwe uit die grond te suig.’ Om ‘n gewer te wees is ‘n wen-wen situasie. Dit help ander, gee jou energie en vul jou met vreugde.

Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 26:1-25; Ps 19; Spr 8:6-7