Teorie of waarheid (3)

2018-04-01
Romeine 4:25 NLV

Die Groot Houdini het belowe dat hy uit die dood sal terugkeer en met sy vriende sal praat. Sommige van hulle het selfs mediums opgesoek om te hoor of daar enige woord vanuit die graf was. Daar was egter nie! Net een man wat belowe het om uit die dood op te staan, het sy belofte gehou – Jesus! Hy het dit gedoen ‘…sodat ons vrygespreek kan word’. Saketransaksies in die Bybelse tyd was relatief eenvoudig, sodra die verkoper die prys neergelê het en die koper dit aanvaar het, is die transaksie beklink. Op Goeie Vrydag het Jesus die prys neergelê en op Paassondag het God dit aanvaar; en sodoende is jou verlossing ten volle betaal. Die grootste bewys van die opstanding word egter in die getransformeerde lewens van mense regoor die aarde gevind. In een van sy finale verskynings in die boek Openbaring, het Jesus aangekonding: ‘…Ek is die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd… Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie…’ (Openbaring 1:18 NLV, Johannes 11:26 NLV). Vandag staan Christus voor die deur van jou hart en klop en sê, ‘…As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan…’ (Openbaring 3:20 NLV). Tensy jy Christus persoonlik as jou Verlosser ken, is jy sonder hoop in hierdie wêreld en die een wat nog gaan kom. Die opstanding van Christus is jou enigste hoop. Daarsonder het jy niks om na uit te sien nie, behalwe na ‘n gat in die grond. Bely dus vandag jou sondes en plaas jou vertroue in die Een wat dood was en weer vir jou opgestaan het.

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10; Luk 24:1-12

Teorie of waarheid (2)

2018-03-31
Johannes 2:19 NLV

Kom ons ondersoek nog ‘n teorie wat deur diegene voorgestel word wat die waarheid van Christus se liggaamlike opstanding probeer weerlê: die ‘Beswymingsteorie.’ In sy boek, The Passover Plot, bespiegel Hugh J. Schonfield dat Jesus net in ‘n beswyming gegaan het en toe van die kruis afgehaal is omdat mense gedink het Hy is dood. In die koelte van die graf het Hy egter toe weer bygekom, opgestaan en sy dissipels oortuig dat Hy uit die dood opgestaan het. Daar is egter gapings in hierdie teorie. Hoekom, byvoorbeeld, het geen vriende of vyande vir agtien honderd jaar voor hierdie teorie bekend gemaak is, dit ooit genoem nie? Wat van die Romeinse soldaat wat Jesus se sy met ‘n spies gesteek het en toe het daar bloed en water uitgekom – empiriese bewys dat daar nie meer lewe was nie omdat die bloed in sy samestellende komponente geskei het? En wat van die getuienis van die soldaat wat deur Pilatus gestuur is: ‘n man wat elke dag met die dood te doen gehad het; wie se werk as laksman dit was om te weet dat Jesus dood is? Dan is daar die vraag van die grafskleed. Jode het gewoonlik dooie liggame in ‘n grafskleed toegedraai en honderde kilogramme se kruie tussen die voue daarvan geplaas, voordat die kleed om die liggaam geseël is. Die kop is ook toegedraai. Hoe kon Jesus asemgehaal het? Hoe kon ‘n man in so ‘n verswakte toestand die groot klip wat sy graf verseël het weggerol het en die Romeinse wagte oorrompel het? Dit neem meer geloof om dit te glo as om die waarheid van wat regtig gebeur het, te glo! Christus het opgestaan!

Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 27:57-66; Ps 49:1-15; Deut 21:22-23

Teorie of waarheid (1)

2018-03-30
1 Tessalonisense 4:14 NLV

Kom ons kyk na sommige van die teorieë deur diegene wat die opstanding ontken. Sommige sê dat omdat die evangelies twee of driehonderd jaar na die gebeure geskryf is, is die verhaal óf vervals óf oordryf. Argeologie weerlê dit egter. Ons weet dat die evangelies teruggelei kan word na die skrywers daarvan en dat die getuienis van die opstanding teruggelei kan word na die dekade waarin dit plaasgevind het. Daar was dus nie tyd vir ‘n legende om te ontwikkel nie! Sommige sê dat die dissipels visioene of hallusinasies ervaar het omdat Christus beloof het om uit die dood uit op te staan en hulle ten volle van Hom verwag het om dit te doen. In die geskiedenis van hallusinasies is daar egter geen insident waar vyfhonderd mense uit verskillende agtergronde dieselfde visioen op dieselfde tyd gesien het nie. Wat van die twee dissipels wat op pad na Emmaus met Jesus na sy opstanding, geloop en praat het en toe saam met Hom geëet het (sien Lukas 24:13)? Het hulle ook gehallusineer? Toe Petrus op Pinkster oor sy ‘groot hallusinasie’ gepraat het, was hy net tien minute weg van die graf af (sien Handelinge 2:24). Duisende mense het geglo; ander het dit gehoor en nie geglo nie. Het niemand daaraan gedink om net by die straat af te stap en te gaan kyk nie? Die Sadduseërs wat so saamgesweer het sou sekerlik elke geleentheid aangegryp het om te bewys dat dit ‘n hallusinasie was. Langs kuslyne is daar ligtorings wat skyn en voëls wat deur die lig aangetrek word, vlieg in hulle vas en word verwond of gaan dood. Dit laat ons aan die kritici van Christus se opstanding dink, nie waar nie?

Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:33-56; Ps 22; Jes 53

Die voordele en nadele van rolmodelle

2018-03-29
1 Korintiërs 15:10 NLV

Ons almal het goeie rolmodelle nodig. Wanneer jy egter jou lewe daaraan wy om soos iemand anders te wees, loop jy die risiko om iets te word wat God nie wil hê jy moet wees nie. Onthou altyd dat jou ‘helde’ ook met blinde kolle en karakterfoute sukkel. Paulus het gesê, ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het’ (vers 9 NLV). Dieselfde met Petrus: Toe Kornelius hom laat roep het, lees ons dat ‘Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ‘n mens net soos jy!'” (Handelinge 10:25-26 NLV). As jy suksesvol in die lewe is, moet jy dieselfde houding inneem. Die gevaar van heldeverering kom wanneer jy jou individualiteit prysgee en die pad verloor wat God vir jou persoonlik beplan het. Sommige van die lesse wat God ons leer mag dalk dieselfde wees, maar ‘n ander persoon se roeping, gawes, reis en tydsraamwerk sal van joune verskil. ‘n Vriend begin byvoorbeeld ‘n besigheid en maak geld, maar wanneer jy jou werk bedank en in sy voetspore volg, speel jy bankrot. ‘n Kollega dra dalk iets wat wonderlik aan haar lyk, maar aan jou lyk dieselfde uitrusting soos ‘n meelsak. God is ‘jaloers’ wat jou betref (sien Deuteronomium 4:24). Hoekom? Omdat Hy jou van enigiets wat jou uniekheid kan steel of jou verhouding met Hom kan bedreig, wil beskerm. Die punt is: As jy op veilige grond wil beweeg, maak Jesus jou rolmodel, en jy sal elke keer wen.

Sielskos: Jer 10-13; Matt 27:27-32; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26

Wees lief vir jou kerk (3)

2018-03-28
2 Korintiërs 4:7 NLV

Christene is nie perfek nie! Die redes daarvoor is:  1) Omdat hulle menslik is. God ken ons hoogste potensiaal en ons laagste begeertes en het ons steeds onvoorwaardelik lief. Die Bybel sê, ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die alle soortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Hierdie kleipotte kan egter kraak. Dit behoort jou nie te ontmoedig nie; dit moet jou hoop gee dat as God ‘n ou gebreekte pot kan gebruik, hy jou ook kan gebruik! 2) Omdat hulle geestelik uitgeput is. Dit gebeur met die bestes van ons. Ons raak besig met wêreldse dinge en gee nie aandag aan ons geestelike gesondheid nie. In die Ou Testamant is ‘n soldaat beveel om ‘n gevangene na ‘n sekere plek toe te vat. Sy bevele was duidelik: ‘Verloor die gevangene en jy verloor jou lewe.’ Die soldaat het sy gevangene verloor en met sy lewe daarvoor geboet. Wat het gebeur? ‘Maar terwyl ek met iets anders besig was, het die gevangene weggekom!…’ (1 Konings 20:40 NLV). Gee dus aandag aan jou geestelike lewe en sorg dat jy nie uitgeput raak nie. 3) Omdat hulle geestelik aan die slaap is. Dis terwyl Simson geslaap het wat Delila sy hare afgesny het en hom aan sy vyande uitgelewer het. Dit is terwyl die slawe geslaap het dat ‘n vyand onkruid tussen die graan gesaai het en die oes verlore gegaan het. Twee dinge waarop jy bedag moet wees is sonde en jou denke oor God. ‘Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref’ (1 Korintiërs 15:34 NLV).

 

Sielskos: Jer 7-9; Matt 27:20-26; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23

Wees lief vir jou kerk (2)

2018-03-27
Handelinge 27:31 NLV

Elke kerk het probleme – en mense wat die probleme veroorsaak. Dit was nog altyd so. Dink aan die kerk in Korinte. Sommige lidmate het gedurende nagmaal dronk geword, ander wou nie luister tensy hul gunsteling prediker aan die woord was nie. Een ou het selfs met sy stiefma ‘n verhouding gehad (sien 1 Korintiërs 5:1). Langs jou op Sondagoggende in die kerk sit daar ‘n paar baie disfunksionele mense. God hou egter aan om met ons te werk, omdat Hy ons potensiaal vir sy koninkryk sien. Nadat hy oor mense wat kla, kerm, begeer en gierig is geskryf het, het Judas sy kort boek met die volgende woorde afgesluit: ‘Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem… behoort die heerlikheid…’ (vers 24 NLV). Paulus en 276 ander mense was in ‘n storm wat nie oorleefbaar gelyk het nie. Nogtans het hy vir hulle gesê, ‘…As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.’ Beteken dit dat dit altyd verkeerd is om ‘n kerk te verlaat? Nee, maar maak seker dat jou redes Skriftuurlik en nie self-gesentreerd is nie. Jy sê, ‘Die pastoor se preke is te lank.’ Paulus het een keer so lank gepreek dat ‘n man wat in ‘n venster op die derde vloer gesit het, aan die slaap geraak het en tot sy dood geval het. Wat het Paulus gedoen? Hy het hom die hande opgelê, hom weer lewendig gemaak en hom weer in die venster laat sit om na die res van die preek te luister (sien Handeling 20:9-11). As jou kerk probleme het, moenie loop nie; bly en bid. Dis hoe dinge verander.

Sielskos: Jer 4-6; Matt 27:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21