Die voordele en nadele van rolmodelle
2018-03-291 Korintiërs 15:10 NLV
Ons almal het goeie rolmodelle nodig. Wanneer jy egter jou lewe daaraan wy om soos iemand anders te wees, loop jy die risiko om iets te word wat God nie wil hê jy moet wees nie. Onthou altyd dat jou ‘helde’ ook met blinde kolle en karakterfoute sukkel. Paulus het gesê, ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het’ (vers 9 NLV). Dieselfde met Petrus: Toe Kornelius hom laat roep het, lees ons dat ‘Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ‘n mens net soos jy!'” (Handelinge 10:25-26 NLV). As jy suksesvol in die lewe is, moet jy dieselfde houding inneem. Die gevaar van heldeverering kom wanneer jy jou individualiteit prysgee en die pad verloor wat God vir jou persoonlik beplan het. Sommige van die lesse wat God ons leer mag dalk dieselfde wees, maar ‘n ander persoon se roeping, gawes, reis en tydsraamwerk sal van joune verskil. ‘n Vriend begin byvoorbeeld ‘n besigheid en maak geld, maar wanneer jy jou werk bedank en in sy voetspore volg, speel jy bankrot. ‘n Kollega dra dalk iets wat wonderlik aan haar lyk, maar aan jou lyk dieselfde uitrusting soos ‘n meelsak. God is ‘jaloers’ wat jou betref (sien Deuteronomium 4:24). Hoekom? Omdat Hy jou van enigiets wat jou uniekheid kan steel of jou verhouding met Hom kan bedreig, wil beskerm. Die punt is: As jy op veilige grond wil beweeg, maak Jesus jou rolmodel, en jy sal elke keer wen.
Sielskos: Jer 10-13; Matt 27:27-32; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26