Wees lief vir jou kerk (2)
2018-03-27Handelinge 27:31 NLV
Elke kerk het probleme – en mense wat die probleme veroorsaak. Dit was nog altyd so. Dink aan die kerk in Korinte. Sommige lidmate het gedurende nagmaal dronk geword, ander wou nie luister tensy hul gunsteling prediker aan die woord was nie. Een ou het selfs met sy stiefma ‘n verhouding gehad (sien 1 Korintiërs 5:1). Langs jou op Sondagoggende in die kerk sit daar ‘n paar baie disfunksionele mense. God hou egter aan om met ons te werk, omdat Hy ons potensiaal vir sy koninkryk sien. Nadat hy oor mense wat kla, kerm, begeer en gierig is geskryf het, het Judas sy kort boek met die volgende woorde afgesluit: ‘Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem… behoort die heerlikheid…’ (vers 24 NLV). Paulus en 276 ander mense was in ‘n storm wat nie oorleefbaar gelyk het nie. Nogtans het hy vir hulle gesê, ‘…As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.’ Beteken dit dat dit altyd verkeerd is om ‘n kerk te verlaat? Nee, maar maak seker dat jou redes Skriftuurlik en nie self-gesentreerd is nie. Jy sê, ‘Die pastoor se preke is te lank.’ Paulus het een keer so lank gepreek dat ‘n man wat in ‘n venster op die derde vloer gesit het, aan die slaap geraak het en tot sy dood geval het. Wat het Paulus gedoen? Hy het hom die hande opgelê, hom weer lewendig gemaak en hom weer in die venster laat sit om na die res van die preek te luister (sien Handeling 20:9-11). As jou kerk probleme het, moenie loop nie; bly en bid. Dis hoe dinge verander.
Sielskos: Jer 4-6; Matt 27:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21